Luister in 3 minute: Dít kan jy van minibegroting verwag

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, oor die mediumtermynbegroting wat binnekort voorgelê word. Hy praat ook oor Transnet se kredietafgradering, beurtkrag en misdaad.

Enoch Godongwana, die minister van finansies, sal vandeesweek die 2021-mediumtermynbegroting ter tafel lê. Na verwagting sal die begroting se syfers in sekere opsigte beter lyk as wat verwag is. Dit is te danke aan ʼn aansienlike belastingmeevaller uit die mynboubedryf.

Volgens die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) kan skuldvlakke en tekorte vir die komende fiskale jaar beter voorkom. Die probleem is egter dat die belastinggaarder se aansienlike meevaller uit mynbou, en ʼn opswaai in kommoditeite, waarskynlik net siklies is.

Bheki Mahlobo, ekonomiese ontleder by die Sentrum van Risiko-analise (CRA), meen dat die begroting nie werklik op groot en nodige hervorming sal neerkom nie. Te wagte is die afgesaagde sprake van die spektrumvrystelling en ander staatsgeleide projekte, soos openbare infrastruktuurbesteding.

Mahlobo noem ook met kommer die stand van skulddienskoste, wat nou besteding op gesondheid oorskry.

Heelwat druk word egter op die regering geplaas om steeds baie te bestee. Die vakverbond, Cosatu, vra byvoorbeeld vir groot stimulusbesteding, maar dit is iets wat duidelik nie nou bekostig kan word nie.

Die BEO meen die trajek van staatskuld sal steeds bedenklik bly, ongeag ʼn beter wegspringplek vir die komende fiskale jaar.

Sakeliga meen die hervorming wat nodig is, is die aanpassing aan beleidstellings soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), inmenging, belasting, en die wegdoen met regulasies wat koste en rompslomp verhoog. Hervorming moet neerkom op groter markvryheid en entrepreneursgeleide oplossings, selfs in die openbare sektor.

Volgende: Die kredietgradeerder Moody’s het onlangs Transnet se skuldgradering verder afgegradeer. Moody’s behou ook ʼn negatiewe uitkyk wat voortaan nog verdere afgraderings kan beteken.

Probleme in die openbare sektor is simptomaties van ʼn groter probleem met die bestel, een waar die staat poog om te veel te doen en te hard ekonomiese uitkomste te manipuleer.

Transnet het onlangs gebuk gegaan onder kuberaanvalle, en daarby het stel 2 van die bekende Bloutrein ook onlangs ontspoor. Dit lyk egter of Transnet se likiditeit ook ʼn reusekommer is. Luidens Moody’s se graderingsverslag kan Transnet nie opkomende skuld dek uit sy vrye kontantvloei nie.

Basies gestel, Transnet sal skuld wat verskuldig is, moet oprol in nuwe skuld. Dit is egter onseker hoe vrylik skuldvoorsiening sal wees. Transnet het reeds vantevore vertragings met finansiering beleef. Dit is weens skuldverbonde wat nie nagekom is nie (deurdat byvoorbeeld finansiële state nie betyds uitgereik is nie).

En laastens, ontleders by die Instituut vir Sekerheidstudies waarsku oor ʼn vlaag van misdaad oor die feestyd.

Een rede daarvoor is die geskeduleerde kragonderbrekings, wat nog ʼn hou weens Eskom se wanbestuur van energie vir die land beteken. Eskom en sy hoof is tans weer hewig onder skoot daaroor.

Weereens is die vraag of die oplossing binne die huidige bestel van energieregulering gevind sal word. In dié stadium lyk dit of niemand Eskom in die energieraamwerk kan red nie.

Ongelukkig volg wetsoortreders blykbaar ook beurtkragskedules en gemeenskappe wat organiseer, vaar beter daarteen. Veral indien ons ervarings met die onluste vroeër vanjaar as ʼn aanduiding beskou.

Ontleders by Sakeliga onderneem tans ʼn studie oor die onlangse onluste om praktiese gebeurlikheidsriglyne vir die sakesektor te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.