Luister in 3 minute: Goeie nuus oor landboubedryf, kragopwekking

(Argieffoto)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die hernude vertroue in die landbousektor, bykomende kritiek op die mededingingskommissie se besluit om die Burger King SA-transaksie te stuit en die positiewe nuus oor onafhanklike kragopwekking.

Die landbousakekamer Agbiz se indeks in die landbousektor het van 64 tot 75 punte, die hoogste vlak nog, gestyg. Dit dui op ʼn versterking van sentiment in dié bedryf.

Luidens die indeks se verklaring bied gunstiger weerstoestande en hoë kommoditeitspryse ondersteuning vir die indeks. Rekordoeste word verder verwag wat die sentiment verder steun.

Sakeliga wonder wel wat gebeur het met die risiko van onteiening sonder vergoeding (OSV). Dit kan wees dat die indeks toestande en opvattings in ʼn segment van die mark aandui. Dit kan ook wees dat vertroue selfs hoër sou wees sonder die risiko van OSV.

Vertroue in landbou, soos Sakeliga dit sien, word tans ondersteun deur eksterne faktore soos die opswaai in kommoditeite. Wat egter op die duur saak sal maak is dat vertroue gehandhaaf word.

Beleid soos OSV werk teen sodanige vertroue. Dit help ook nie om ʼn meevaller van gunstige eksterne toestande deur slegte beleid ongedaan te maak nie.

Van Onselen het verlede week gekyk na die omstrede besluit toe die mededingingskommissie weens ʼn gebrek aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ʼn stokkie voor die verkope van Burger King SA gesteek het.

Selfs bekende ekonome reageer nou met fel kritiek.

Dr. Roelof Botha is van mening dat die kommissie weinig begrip toon vir die problematiek in die ekonomie tans. Hy sê verder dat die tasbare ekonomiese voordele wat die transaksie sou inhou bloot geïgnoreer is. Na berig word wys hy ook op die gebrek aan enige impakstudie wat hierdie soort besluite vooruitgaan.

Sakeliga beklemtoon weer eens die waterskeiding van die besluit. Beleidmakers is veronderstel om deeglike kennis te dra van ekonomiese realiteite. Daarby moet ʼn mens meer as een oorweging, en nie net die ideologie van SEB nie, inreken by impakstudies voordat ʼn besluit geneem word.

Uiteindelik is die realiteit dat mense nie, as’t ware, ideologie kan eet nie.

Die mededingingskommissie is nou deeglik ontmasker as verdere agent vir die afdwinging van SEB.

Laastens kyk Van Onselen na die onlangse aankondiging oor opwekking van elektrisiteit vir eie gebruik (embedded generation). Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week hieroor ʼn noemenswaardige aankondiging gemaak.

Die idee is om Skedule 2 van die wet op elektrisiteit-egulering aan te pas sodat projekte van 100 MW of minder nie ʼn lisensie van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sal benodig nie. Daar sal steeds Nersa-goedkeurings benodig word en goed soos permitte vir netwerktoegang en omgewingsimpakstudies.

Groter eie opwekking, transmissie van eie krag (“wheeling”) en verkope aan munisipaliteite is egter stappe in die regte rigting. Daar is ook positiewe verwikkelinge by die verkoop van ʼn meerderheidsaandeel in die Suid-Afrikaanse Lugdiens

Is dit genoeg? Dr. Frans Cronjé van die Sentrum van Risiko-analise (CRA) se mening is dat hierdie stappe, hoewel belangrik, sover op ʼn huiwerige taktiese terugval van skadelike beleid neerkom. Groter algehele vryemarkhervorming is nodig om ʼn duidelike omkeer in ANC-beleid aan te dui.

By elektrisiteit self sal die aansoeke en goedkeurings, netwerkpermitte, en ander vereistes glad moet verloop om werklik ʼn verskil te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.