Luister in 3 minute: Politieke risiko, duurder water en onluste

kraan-water-glas

Foto: Arcaion/Pixabay.com

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bespreek in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake, ʼn peiling oor politieke risiko, die moontlikheid dat duurder water Suid-Afrika se voorland is, asook die gewelddadige onluste in die groot metro’s.

Sakeliga het in Augustus ʼn peiling onder sy lede onderneem. Dít het gepoog om opvattings oor huidige politieke risiko te peil. Verder is daar gekyk of ondernemings stappe doen om daarteenoor internasionaal te diversifiseer.

Uit die peiling se respondente, sowat 260 van hulle, het bykans 84% aangedui dat politieke risiko nou hoër beleef word as drie jaar tevore, tydens die Zuma-administrasie.

Volgens aanduidings het sowat 25% van betrokke ondernemings reeds bedryfsaktiwiteite na die buiteland gediversifiseer of is tans besig daarmee. ʼn Verdere 24% van ondernemings beoog om oor die  volgende drie jaar daarmee te begin.

Altesaam 21% van respondente dui aan dat by hul ondernemings stappe gedoen is of tans gedoen word om dele van ondernemings in regsentiteite buite Suid-Afrika te registreer. Altesaam 25% beplan sodanige registrasie oor die volgende drie jaar.

Die peiling dui darem nie op ʼn volslae onttrekking uit Suid-Afrika nie, eerder op gesonde stappe om bedryfsaktiwiteite en dele van ondernemings na die buiteland te diversifiseer.

Verskansing teen politieke risiko is nodig, maar beteken ook afruilings tussen plaaslike risiko’s en internasionaliseringsrisiko’s.

Die beste uitkoms vir almal is natuurlik gesonder beleidsomgewing. Tot tyd en wyl dit nie die geval is nie, blyk dit uit ondernemings se terugvoer dat stappe gedoen sal word om te verskans.

Rapport berig dat huishoudings en nywerhede volgende jaar heelwat meer vir water kan betaal – sommige verbruikers tot naastenby 17% meer.

Daar is tans groot kommer oor die stand van die land se waterinfrastruktuur, iets wat deur die regering in stand gehou moet word.

Volgens Leon Basson, DA-woordvoerder oor water en sanitasie, word sowat R800 miljard benodig om bloot die water-infrastruktuur in stand te hou, of R80 miljard per jaar oor die volgende tien jaar. Dit beteken natuurlik bykomende druk op waterheffings.

Watervoorsiening en stygende waterpryse is ʼn onderliggende risiko wat ondernemings en huishoudings oor die volgende jare sal moet inreken.

Gewelddadige optrede in groot Johannesburgse metro’s was onlangs in die nuus. Volgens berigte is veral buitelanders se ondernemings in verskeie gebiede geplunder. Dié geweld herinner aan die sogenaamde xenofobiese geweld van 2008 in Suid-Afrika. ʼn Kommerwekkende gedagte.

Die regering van Nigerië het aangedui dat sowat 600 landburgers van Nigerië, wat in nood verkeer, van Suid-Afrika onttrek sal word. Die gebeure bemoeilik natuurlik betrekkinge met ander Afrika-regerings.

Redes vir die geweld is kompleks. Tog is dit heel denkbaar dat buitelanders, as vreemdelinge, as sondebokke vir die ellendes van ʼn swak ekonomie, min geleenthede en werkloosheid uitgemaak word.

Dit is ook waar dat mense baie hard sal baklei wanneer daar ervaar word dat hul geleenthede aan’t kwyn is.

Hierdie probleme is natuurlik nie te danke aan die doen en late van buitelanders nie. Soos ons gereeld beklemtoon, die tyd is ryp om die koste en uitwerking van swak beleidstellings en bestuur van die ekonomie in die oë te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

aj ·

Sogenaamde asielsoekers en vlugtelinge uit Afrika stroom oor SA grense om te deel in die stroping van staats- en privaat bates!

Nêrens anders in Afrika kry mense GRATIS huise, water elektrisiteit, toelaes ens nie.

Nou dat SA bankrot is begin die lokale arm mense veg vir hulle gratis ALLES omdat daar nie genoeg is vir almal nie

Selle ou storie! … Afrika!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.