Luister: Knap só jou huis sakpas op

Foto ter illustrasie. (Foto: Spacejoy/Unsplash)

Om opknappingswerk by jou huis te doen, hoef beslis nie die bank te breek nie.

Só sê Henck Conrey, aanbieder van kykNET se Vat jou goed en trek! en mede-eienaar van ʼn eiendomsagentskap, in die jongste aflewering van Maroela Media se podsendingreeks oor eiendom, dekor en opknappings.

“Om ʼn huis van nuuts af heeltemal oor te doen, kan baie uitdagend wees. Nie net is ʼn mens nie altyd seker wat jy moet verander nie, maar dit is ook duur,” sê Conrey.

“Dit is belangrik om altyd jou begroting in ag te neem.”

Tog, sê hy, is dit moontlik om jou ruimte nuwe lewe te gee sonder om te diep in die beursie te grou.

Een van Conrey se topwenke vir jou opknappingswerk, is om kroonlyste te installeer. Dié byvoeging tot jou huis sal vertrekke meer duursaam laat vertoon, verduidelik hy.

“Dit is ook glad nie moeilik om self kroonlyste te installeer nie, en ʼn mens kry dit by enige hardewarewinkel.”

Nog ʼn toevoeging tot ʼn opgeknapte ruimte is ʼn vars laag verf. Indien dit nie in jou begroting is om jou hele huis uit te verf nie, stel Conrey voor dat jy mure en hoeke identifiseer wat fokusareas kan word.

“ʼn Fokusmuur is daardie punt wat die oog dadelik trek. Sodoende hoef jy nie al die mure te verf nie, maar net daardie een muur wat die oog gaan trek en die ruimte heeltemal nuut gaan laat vertoon.”

Wanneer jy klaar kroonlyste geïnstalleer het en jou fokusmuur geverf het, stel Conrey voor dat jy oorweeg om van jou meubels weer mooi te maak en te verander. Dit beteken nie dat jy nuwe meubels aanskaf nie, maar dat jy ʼn meubelstuk of twee identifiseer wat met ʼn kleurverandering kan doen.

ʼn Voorbeeld is om ʼn ou, verwaarloosde meubelstuk te neem, dit af te skuur en te verf.

“Dit is nie nodig om alles nuut aan te koop nie, soms het jy reeds skatte in jou huis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.