Luister: Maak ʼn ander plan met Nuwejaarsvoornemens

Suné Sutton, ʼn spreker, skrywer en leier van Doxa Deo Brooklyn se vrouebediening. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Nuwe jaar, nuwe ek!” Klink dít bekend?

Jaar ná jaar belowe ons onsself dat ons meer of minder van iets gaan doen, wees of eet, maar dikwels hou ons Nuwejaarsvoornemens nie eens tot Februarie nie.

Suné Sutton, ʼn spreker, skrywer en leier van Doxa Deo Brooklyn se vrouebediening, het in die Maroela Media-ateljee kom kuier en vertel hoekom Nuwejaarsvoornemens nie noodwendig die beste sleutel tot selfverbetering is nie.

“Ek dink die eerste en dalk die grootste fout wat so baie van ons maak, is om reeds met die opstel van ons voornemens onsself te kniehalter,” vertel Suné.

“Natuurlik moet ons hoop en strewe na iets meer of beter, maar jaar ná jaar stel ons doelwitte op wat ons eintlik weet net na teleurstelling gaan lei. Die goeie nuus is dat daar ʼn beter en meer volhoubare benadering tot doelwitstelling is.”

In dié podsending benadruk sy die belangrikheid van rus en selfondersoek wanneer dit by Nuwejaarsvoornemens kom en verduidelik waarom dit belangrik is dat jou doelwitte met jou waardes, vermoëns en belangstellings ooreenstem.

In dié podsending benadruk Suné die belangrikheid van rus en selfondersoek wanneer dit by Nuwejaarsvoornemens kom.

“Toe ek byvoorbeeld een jaar vir een vriendin vertel dat ek in die nuwe jaar vyfuur soggens wou opstaan om te draf, toe stop sy my en sê: ‘Vriendin, jy is nie ʼn oggendmens nie én jy haat dit om te draf. Hoekom sal jy dan oefening op hierdie wyse wil aanpak?’ Toe gaan daar ʼn liggie by my aan.”

Sy gesels verder oor die negatiewe uitwerking wat sosiale media en ʼn vergelykende mentaliteit op ons doelwitstellings kan hê en hoekom ons eerlik met onsself oor ons omstandighede moet wees om daadwerklike verandering teweeg te bring.

“Ek wens ook ons wil soms gawer met onsself wees. Ons sal nooit ons vriendinne veroordeel of afkraak nie, maar ons doen dit so maklik met onsself.”

Sy verduidelik ook hoekom dit belangrik is om “moets en moenies” van ons Nuwejaarsvoornemens-woordeskat te verwyder en onsself eerder te vra “wat is goed en gesond” vir ons fisieke en geestelike gesondheid.

Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.