Luister: Stigting wil onderwysers vereer

(Argieffoto: Unsplash)

Die Worth It Foundation weet hoe belangrik onderwysers vir ʼn florerende gemeenskap is. Daarom het hulle ʼn kompetisie van stapel gestuur waarin leerders hul waardering vir onderwysers ten toon kan stel.

“Hierdie kompetisie is ʼn geleentheid wat ons vir kinders skep om te sê ‘my Juffrou of Meneer is die beste.’ Vir ons is dit belangrik dat onderwysers weet dat hulle waardeer word,” sê Maretha Bruwer, stigter van die Worth It-stigting.

Dié organisasie het ontstaan om volhoubare ontwikkeling in gemeenskappe te bewerkstellig, en is doenig met allerhande projekte, wat dierewelsyn, onderwys, bejaarde- en kindersorg insluit.

Die stigting, wat reeds ʼn hele paar jaar gelede ontstaan het, is sedert 2023 deel van die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA), en fokus daarop om verskeie geldinsamelingprojekte van stapel te stuur en te fasiliteer namens ander projekte en organisasies.

“My hart is oop om te help, oral waarheen ek gaan. Ons sonder ook nie mense uit nie, as daar nood is, probeer ons ons bes om te help,” sê Bruwer in ʼn onderhoud in Maroela Media se ateljee.

Een van die jongste projekte wat die organisasie van stapel gestuur het, is ʼn kompetisie wat onderwysers in die kollig plaas en vereer vir die werk wat hulle in die gemeenskap verrig.

“In vandag se tye werk die onderwysers hard. Vir my as ouer is dit belangrik dat die mense wat ʼn invloed op my kind het, weet dat hulle waardeer word,  [weet dat hulle] ʼn positiewe invloed op die kinders het en dat dit vir die kinders lekker is om daar te wees.”

Dit is juis waarom die Worth It-stigting ʼn kompetisie van stapel gestuur het om ʼn onderwyser te beloon met ʼn hele paar bederfpryse.

(Foto: verskaf)

Kinders het tot en met 3 Februarie 2024 die geleentheid om hul onderwysers te benoem. Die onderwyser wat as wenner van die kompetisie aangewys word, sal wegstap met ʼn luukse vakansie vir twee mense, met ʼn bonusnaweek by enige ATKV-oord vir vier mense ingesluit. Die leerder wat die wenbenoeming instuur, wen ook ʼn naweek by enige ATKV-oord vir vier mense. Die skool waar die onderwyser werk, sal ook prysgeld van R10 000 ontvang.

Inskrywings kan na [email protected] gestuur word, en moet die onderwyser se naam en van, die skool waar die betrokke onderwyser skoolhou asook die kind se naam, van en ouderdom insluit. Daarmee saam word leerders genooi om te skryf waarom hul onderwyser die beste onderwyser is.

  • Vir meer inligting oor die Worth It Foundation besoek hierdie Facebook-bladsy.
  • Luister boaan die artikel na ‘n volledige klankonderhoud met Maretha Bruwer. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.