ʼn Visie anderkant die woestyn

Dr. Dirk Hermann (Foto: Reint Dykema)

Dit is 1 Oktober 1997, presies 25 jaar gelede, en ek stap by my eerste regte werk in, die Mynwerkersunie. Dit was ʼn vreemde kantoor in Pretoria-Wes. My kantoor was twee afskortings, daar was nie ʼn rekenaar nie, net ʼn ou tikmasjien. My stoel was stukkend en het iets gesimboliseer van die toestand waarin die vakbond was – ʼn organisasie waarvan die tyd eintlik verby was.

Ek was die akkedis genoem omdat ek ʼn graad gehad het en dus uit die akademie gekom het. Die vertrouensvlakke in my was maar laag onder die manne. Ek het nie uit die “ranks” gekom nie.

Peet Horn, ʼn verteenwoordiger by Telkom en voorsitter van ons distriksraad, neem my toe onder sy vlerk.

In my onderhoud vir die werk het Flip Buys gevra of ek gereed is om die volk te leer ken. En ek het die volk leer ken: geharde blouboordjiemanne van Yskor-werke, Telkom, Eskom, Bevcan en ander plekke. Maar daar was ook ingenieurs by Krygkor en ambagslui by Denel. Ek het aan die begin nie by die myne, Sasol en Eskom georganiseer nie, maar het later ook daar baie gewerk. Al die mense was ons mense vir wie ek baie lief geword het.

Die Mynwerkersunie was toe vir alle praktiese doeleindes bankrot –bankrot aan idees en bankrot aan geld. Niemand weet presies hoeveel nie, maar ons het seker so 20 000 betalende lede gehad.

Ek het by ʼn bankrot plek en in ʼn bankrot kantoor begin werk. Oor waarom ek dit gedoen het, is ek nie seker nie. Ek het ander opsies by die universiteit en in die korporatiewe wêreld gehad. Ek dink die Here het my aan die een kant met blindheid getref, maar ook my oë oopgemaak om Flip Buys se visie te kon sien en daarin te glo. Dit is die krag van roeping.

bou-boekbekendstelling-05

Willie Spies gesels met dr. Dirk Hermann, Flip Buys en Melinda Jansen van Rensburg oor die begindae van Solidariteit. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Flip is ʼn siener. Nie soos dié wat vergesigte sien nie, maar as iemand wat met so ʼn ongelooflike intellek en kennis verbande kan trek en só die toekoms voorspel. Oor Peet Ungerer, hoofsekretaris voor Flip, en die hoofraad van destyds kan seker kritiek uitgespreek word. Hul laaste besluit was egter om die jong Flip Buys aan te stel. Dit was dapper en reg. Daarvoor verdien hulle krediet.

Ek en Flip het in 1997 via die internet ontmoet toe ek ʼn internskap in Fort Worth, Texas, gedoen het. Ek het van Fort Worth na Las Vegas gevlieg. Jy vlieg duisende kilometer oor dor woestyn en dan land jy in hierdie rykmanspeelplek. Op die vliegtuig skryf ek toe ʼn stuk met die titel, “ʼn Visie anderkant die woestyn” en stuur dit na Flip. Min het ek besef dit was eintlik my CV.

Ek en hy het mekaar deur hierdie visie anderkant die woestyn gevind en ek het teruggekom en vir die Mynwerkersunie kom werk. Daar, op my stukkende stoel, het ek ʼn visie anderkant die woestyn gesien.

Aan die einde van 1997 hou die Mynwerkersunie ʼn kongres. Dié kongres van die ou, bankrot instelling, wat die einde van sy leeftyd bereik het, het plaasgevind terwyl Suid-Afrika nog die euforie van die nuwe Suid-Afrika beleef het. Nelson Mandela het nie lank tevore nie ʼn Springbok-rugbytrui gedra en die wonderlike Grondwet wat ons gaan beskerm is aanvaar. Vandag probeer almal die Grondwet beskerm.

Op die kongres sê Flip die bankrot organisasie moet ʼn beweging bou omdat die euforie gaan inplof. Flip die siener. Die blouboordjiewerkers sien dit raak. Hulle was die eerstes om die toekoms wat in die werkplek aan die kom was te beleef. Ironies genoeg was hulle veranderingsagente.

Ou strydrosse van die Mynwerkersunie soos oom Cor de Jager help steun werf vir ʼn naamsverandering. Piet du Plooy, die ambagsintellektueel en -filosoof, help dink en vertaal in gewone werkerstaal. Ouhande soos André van der Merwe, André Vermaak en Gerhard Ceronie help bou. Staatmakers soos Steve Scott, Blackie Swart en Deon de Vries loop voor. Hulle is nou nog betrokke. Ek kan tientalle ander name noem.

ʼn Nuwe beweging begin die lig sien uit gewone mense wat werk. Nóg ʼn akkedis word in 1998 aangestel, Henk Schalekamp, die beste gemeenskapsentrepeneur wat ek nog ontmoet het. Kallie Kriel, ook ʼn akkedis, wat die hart van ons mense ken en kan mobiliseer, sluit hom in 1999 by die Mynwerkersunie aan.

Toe begin ons bou. Eers die omdraai van die Mynwerkersunie – ʼn nuwe visie, nuwe stelsel, nuwe personeel. Ons loods Solidariteit, ʼn nuwe saamstaan-naam vir ons nuwe droom, in 2001. Ons wil egter ʼn beweging bou, een wat baie groter is as net die vakbond.

Om die Solidariteit Beweging te bou benodig ons geld en ek en André van der Merwe het dwarsoor die land gereis en verteenwoordigervergaderings gehou. Sonder uitsondering stem al die vergaderings ten gunste daarvan dat lede R10 per maand ekstra sal gee om te bou.

Die Solidariteit Beweging het sy 120ste bestaansjaar gevier. (Foto: Reint Dykema)

Toe bou ons dat dit klap! In 2002 word die Solidariteit Helpende Hand as ʼn eie instelling bekendgestel. Die instelling groei en vandag het dit sowat 195 takke landwyd wat betrokke is by gemeenskapsontwikkeling oral in die land. Helpende Hand het 22 maatskaplike werkers in diens. Helpende Hand Sake bestuur 115 Ons Winkels. Die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum het vanjaar R50 miljoen aan studiehulp toegestaan. Tuisversorgers word opgelei.

AfriForum was volgende aan die beurt en word in 2006 gestig. Vandag is AfriForum ʼn waghond-organisasie wat hom veral met burgerregte-aangeleenthede bemoei. AfriForum het ʼn veiligheidsnetwerk oor die hele land met 165 buurtwagte, Forum Sekuriteit en 8 000 vrywilligers wat patrolliediens verrig. AfriForum het 155 takke wat betrokke is by plaaslike infrastruktuur. Onlangse toevoegings is AfriForumTV en die AfriForum Teater.

Die stigting van Sol-Tech volg in 2007. Vandag het Sol-Tech ʼn spogkampus. Daar is 2 200 studente en dié opleidingsinstelling bars uit sy nate. Verdere uitbreiding word beplan. Daar is ʼn waglys van werkgewers wat Sol-Tech-studente in diens wil neem.

Maroela Media is in 2011 geloods. Dié klein begin, met ʼn enkele personeellid en een kantoor is vandag die grootste Afrikaanse webblad en ʼn aanlyn mediahuis wat ʼn groot gemeenskapsradionetwerk. Maroela Media lok nou 2,3 miljoen unieke besoekers per maand.

Die FAK is al in 1929 gestig en skakel in 2011 by die Solidariteit Beweging in. Die FAK herstel Afrikaners se kulturele selfvertroue en het onlangs ook ʼn bestuursooreenkoms aangegaan om die Voortrekkermonument te bestuur.

Akademia is in 2012 gestig en het tans 2 500 studente. Die eerste studente wat op die kampus klasdraf is in 2021 op Akademia se huidige kampus verwelkom. Nog graad-kwalifikasies wat deur Akademia aangebied word, het intussen amptelike akkreditasie ontvang en buitelandse bande word gebou. ʼn Reuse- nuwe kampus word beplan – wêreldklas in Afrikaans.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het in 2015 tot stand gekom en is besig om ʼn bekostigbare Afrikaanse skoolstelsel van wêreldklas te ontwikkel. Die SOS se vakverenigings het die afgelope jaar 14 000 onderwysers opgelei. Altesaam 52 skole en
5 000 individue maak gebruik van die Wolkskool. Daar is groot planne om ʼn nuwe, onafhanklike skolenetwerk van wêreldklas in samewerking met vennote en ander skole daar te stel.

Bo-Karoo is ʼn nuwe opleidingsinstelling op Orania en is in 2016 begin. Tegniese en landbou-opleiding sowel as opleiding in tuisversorging word hier aangebied. Studenteverblyf en ʼn nuwe kampus word gebou.

Kanton Eiendomme is in 2019 gestig en bou leefruimtes vir Afrikaans. Kanton Eiendomme het die Sol-Tech-kampus gebou en gaan ook koshuise vir Sol-Tech, asook die nuwe Akademia-kampus en ʼn privaat skool bou.

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) is in 2020 gestig. OOM bestuur projekte om die nuwe klein stad en streek te ontwikkel. Infrastruktuur, erwe, opleiding, veiligheid, intreebehuising, werk en welstand is hoog op die agenda.

Die Solidariteit Regsfonds pak groot regsake in openbare belang aan. Die Solidariteit Boufonds help om veral opleidingsinstellings te bou. Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy bestuur van Solidariteit se beleggings en gee bestuursadvies. Solidariteit Finansiële Dienste bestuur finansiële dienste wat die verhouding met Virseker insluit.

In 2022 is Solidariteit besig om ʼn groot nuwe fase te betree. Beroepsnetwerke, wat op die ou gildekonsep geskoei is, word gevestig. ʼn Reuseplatform wat mense op elke lewensfase ondersteun word gebou. Saam met die platform kom ʼn nuwe werkfasiliteringsplatform en ʼn nuwe fokus op jongmense. 120 jaar later en Solidariteit maak nuwe, groter planne.

Die Solidariteit Beweging is in 2010 bekendgestel en dit is in 2013 geformaliseer. Die Solidariteit Beweging Trust ontwikkel die federale idee en federale plan, belyn al die Beweging se inisiatiewe, bou internasionale verhoudinge en vestig internasionale strukture. Die Trust is die saamkomplek van alles en bind al die instellings aan mekaar.

Namib_woestyn_stiltetyd.jpg

Foto: Susan Lombaard

25 jaar gelede het ons 20 000 lede gehad en was bankrot. Vandag het die totale Solidariteit Beweging 570 000 betalende lede en sy bedryfsbegroting beloop meer as R1 miljard. Meer as 2 000 werknemers werk voltyds vir die Beweging.

Dit is 25 later, my stoel is nie meer stukkend nie, ons is nie meer bankrot nie. Ons visie is egter nie kleiner nie. Inteendeel, dit word al groter. Ons is hier om te bly, self te doen en te bou.

Ons bou ʼn toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig gaan wees.

Ná 25 jaar kan ek dankie sê aan Solidariteit en spesifiek aan Flip Buys.

In 1999 is ek en my wonderlike vrou getroud en vier pragtige dogters is gebore. Hulle gee my energie en Elsha is my steunpilaar.Ek kyk na Bo. Daar kom my hulp vandaan.

Dit is 25 jaar later en my dankbaarheidsbeker loop oor.

Ek leef in ʼn visie anderkant die woestyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

B-Man ·

Ek wens ek kon meer geld gee elke maand. Dankie vir wat julle doen!

groenboer ·

Mense praat baie van die “Boereprofeet” Siener van Rensburg. Maar ons werklike sieners is nog met ons: ouens soos Flip Buys en Dirk Hermann laat mens dink daar is ‘n toekoms hier. Mag hulle en die organisasies wat hulle help stig het van krag tot krag gaan. Ons sal self!

OW ·

Baie dankie vir hierdie insiggewende skrywe,Dr Hermann.Ons afrikaanssprekendes staan in
niemand se skaduwee nie,en is nog altyd deel van die Internasionale verhoog.Baie sterkte op die
wat pad voorlê.Ons sal self!

Republikein in die Wes Kaap ·

Alles goed en wel dr Hermann, julle het ‘n groot en magtige korporasie opgebou. Baie geluk! Maar wat word gedoen om die gewone Afrikaner weer politieke en staatkundige onafhanklikheid te gee? Moet ons aanhou voortploeter onder die ANC tot aan die einde van dae? Van ons werk al vir meer as twee dekades tussen swart mense en onder swart bestuurders waar ons menswees onder druk is. Ons moes regstellende aksies trotseer. Ons kan tog nie almal vir Solidariteit kom werk nie. Die van ons wat bedank het vind BEE ‘n enorme uitdaging. Van ons kinders en klein kinders verkies om ‘n veilige toekoms in die buiteland te bou. Ek sal graag wil weet wat is julle visie vir die gewone Afrikaners. Net ‘n enkele sin. Of moet ons nou maar op Solidariteit vertrou en ons vryheidsdrang wat so deel is van die Afrikaner se wese by die kantlyn uitskop. Myns insiens is dit nie volhoubaar nie.

annie ·

… in die Wes-Kaap waar die gras groen nog is… Noord gaan dit broekskeur met Afrikaners. Armblanke-vraagstuk2 dreig? Groot besighede speel saam met die ANCeee en stel feitlik net swartes aan. Baaaaie gewone werksoekers en talle skaam slim akkedisse bak hul oud in ook hul SA-son op die ou vervalle kraalmuur. Dit is die volgende moeilike taak van Solidariteit…

Piet Snot ·

Dit laat my dink aan vanoggend se vers: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Ons Vader word verheerlik deur die dinge wat julle by Solidariteit doen.

Adam ·

Ek kry hoendervleis so trots is ek op hierdie ouens
Dit is die stofasie waarvan ons gemaak is ons SAL NIE opgee of gaan le nie. ‘Ons sal self ‘is die motto waarmee ek my kinders groot maak
Sal verseker my maandelikse bydrae vergroot. Wragtig , ons kort meer mense soos Dirk Herman.
Ek lig my hoed vir jou Dirk

Schalk ·

Ek stem saam met julle visie en ek hoop julle suksesplan word net meer en meer suksesvol. Ek is bekommerd egter want ek het poste oop gehad by my besigheid en julle gebel. Ek is van bakboord na stuurboord gestuur en het selfs die poste geplaas op julle werknet webtuiste. Nie een aansoek ontvang nie. Ek probeer ons mense help maar iewers is daar ‘n duidelike kommunikasie gaping.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.