ToekomsVenster: Sy las is lig en sy juk is sag

Foto: Aaron Burden/Unsplash

Ons leef in ʼn wêreld wat ongekende eise aan mense stel. Moedeloosheid is aan die orde van die dag. Mense is moeg en oorlaai, baie is kwaad en ontwrig, ander gee net nie meer om nie. Slegte nuus rol soos water van ʼn eend se rug af, daar is min wat nog kan ontstel, ons het dit alles gehoor. Suid-Afrika, trouens die wêreld, is aan die brand.

Los my uit, ek wil niks weet nie. Dalk ook nie van God nie want deel van my frustrasie is die wyse waarop God aan my voorgehou word. Bykans genadeloos, ongenaakbaar en onvriendelik. Foutvinderig en nooit tevrede nie.

Ek gee nie genoeg nie, lees en bid nie genoeg nie, getuig nie genoeg nie, ondersteun nie genoeg nie. Dis ʼn ondraaglike las om dra, al die vereistes en verwagtinge en ek is net een mens. Ek doen so goed ek kan en basta.

Ek is jammer dat ons God en sy kerk so aangebied het.

Hy sê dan sy las is lig en sy juk is sag. Hy nooi dan uit na waters waar rus is en groen weivelde. Hy vra nie maar laat my aansit. Hy stel nie eise nie maar gee beloftes. Ja, die wêreld het God broodnodig maar dan die God van hoop, omgee, liefde en genade. Nie nog ʼn afranseling, skrobbering of dissiplinêre verhoor nie.

Hier is die getuienis van iemand wat by God tuisgekom het:

“Ek het die Here altyd deur by my.

Omdat Hy by my is sal ek nie struikel nie.

ʼn Pragtige deel is vir my afgemeet.

Wat ek ontvang het is vir my mooi”.

“Kom ondervind en sien dat die Here goed is.

Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil”. (Ps. 34)

Haal diep asem en ontspan. Hy gee wat Hy vra.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Irma ·

Ek is juis so kwaad vandag. Tien sekondes nadat ek my hele salaris aan my werklose kind moes gee, maak ek hierdie boodskap oop. “Haal diep asem… Ontspan”. Ek is ook moeg gespartel, Here. Ek het ook soms ‘n drukkie nodig, Here. Maar dankie ! vir dit wat ek nog ontvang, n Lieflike deel is vir my uitgemeet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.