SAUK se eerste oorsese radiouitsending

Robbeneiland soos meeste mense dit nou ken. Foto: Facebook/Robbeneiland Museum – ’n Agenstskap van die departement van kuns en kultuur.

Deur Annami Simon

Dis Vrydagaand 6 Julie 1951 en byna nege-uur…

“Dit is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. Vrolikheid in die Koffiehuis word vanaand van Robbeneiland af uitgesaai en word, soos gewoonlik, aangebied deur Gerhard Roux. Oor na Robbeneiland.”

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) is op 1 Augustus 1936 gestig – dit was die eerste voltydse Afrikaanse Diens, Radio Suid-Afrika (nou RSG) en is vanjaar reeds 82 jaar oud.

Die direkte “oorsese” uitsending van die weeklikse verskeidenheidsprogram in 1951 was een van die radiodiens se hoogtepunte in die vroeë 1950’s.

gerhard-roux-en-sy-vrou-bess-in-2012

Gerhard Roux (regs) en sy vrou Bess in 2012. Foto: Verskaf.

Gerhard Roux vertel:

Die eiland was steeds (soos tydens die Tweede Wêreldoorlog) as strategiese verdedigingspos ontoeganklik vir die algemene publiek. Die inwoners kon met toestemming van die Kommandement Westelike Provinsie gesinslede of vriende uitnooi om te kom kuier of as gaste by spesiale geleentheid die eiland besoek.

Toe kom die uitnodiging in 1951 van die Robbeneilandse Vroueklub: “Bring Vrolikheid in die Koffiehuis eiland toe vir ’n konsert ten behoewe van kankernavorsing.”

Dit is geesdriftig aanvaar, natuurlik onderworpe aan die goedkeuring van die owerheid.

Maar is dit prakties uitvoerbaar, het hulle gewonder. Dit moet ʼn direkte uitsending wees. Is die lyngehalte voldoende, want telefoongesprekke met die organiseerders het effe yl en ver geklink. Die bedryfsdepartement het ná ondersoek die versekering gegee dat daar geen probleme voorsien word nie – die poskantoor sal in oorleg met die militêre owerheid sorg vir die minimum van twee telefoonlyne wat vir so ’n uitsending benodig word.

“En al is die lyngehalte nie honderd persent nie… dis mos ʼn uitsending van oorsee!”

Die uitsending het wye belangstelling gelok. Die SAUK se kantore, destyds in Riebeeckstraat in Kaapstad se middestad, is oorval met versoeke “om saam te gaan”, en ons moes herhaaldelik luisteraars inlig dat bywoning streng beperk word.

Die plaaslike media, insluitend die twee Engelse dagblaaie, het vooraf berigte geplaas. Toe die groep Kofffiehuis-kunstenaars en ’n aantal genooide gaste die Vrydagmiddag met die veerboot Issie (vernoem na genl. Smuts se vrou) uit die Kaapse hawe vertrek, was die pers (verslaggewers en fotograwe) op volle sterkte aan boord. Tafelbaai was in goeie luim en net ʼn enkele passasier het ʼn bietjie bleek aan wal gestap.

Offisiere, lede van die Vroueklub en ander gasvroue by wie ons sou tuisgaan, het Issie op die eilandkaai ingewag.

Die kunstenaars, SAUK-personeel en verteenwoordigers van die media is by gasvroue uitgeplaas en ná aandete het die gehoor van bykans 300 met toenemende geesdrif gewag op die aansluiting by die Afrikaanse Diens. Die kwart-voor-nege-aftelling begin. Die hoofkontrole in Johannesburg bevestig die verbinding met Robbeneiland. En dan kom die aankondiging. Dunner as gewoonlik. Ver.

“Dit is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie…”

Dit was een van die beste Koffiehuiskonserte. Robbeneiland was bevoorreg om die program se A-span te kry: Jean du Plessis se boereorkes, Pieter van der Byl (Piet Pompies), Isak Bornman (Koos van der Merwe) asook die destydse mondfluitjievirtuoos, Dave Barlow en die sangpaar John le Roux en Daphne Keet. Hulle was almal gesoute Koffiehuisers, maar elke orkeslid, elke deelnemer, het met hul heel beste vorendag gekom.

Vrese van onderbreking op die lang telefoonpad na Johannesburg is besweer. Maar alles het vlot verloop – daar is ná die uitsending nog konsert gehou en gedans tot laatnag, en ʼn effe uitgeputte, maar tevrede Koffiehuisgroep het die volgende oggend om agtuur op Issie die terugvaart begin.

Maar helaas. Tafelbaai was nie meer so vriendelik nie. Issie het nie soos deesdae se veerbote stabiliseerders gehad nie en binne minute het die meeste passasiers die ruim sitkamerkajuit verlaat en besluit om eerder die koue suidwester op die dek te trotseer as om seesiek te word. Vir ʼn hele aantal het dit egter geen verligting gebring nie. Daar is oor die relings geleun en visse gevoer.

En Tafelberg wou maar net nie nader kom nie.

gerhard-roux-in-sy-uitsaaidae

Gerhard Roux aan die begin van sy uitsaaidae by die SAUK. Foto: Verskaf.

Baanbrekers

Vrolikheid in die Koffiehuis was teen Julie 1951 stewig gevestig. Wyle Pieter de Waal het net meer as ʼn jaar tevore daarmee begin in die Afrikaanse Koffiehuis

in die kelderverdieping van Groote Kerk-gebou aan die bopunt van Adderleystraat. Die program het ʼn betekenisvolle rol gespeel om boeremusiek te bevorder en soliste en sangpare het wye blootstelling gekry.

Die skepping van die komediant, Piet Pompies, was egter stellig die belangrikste bydrae. Voornemende kunstenaars is uitgenooi om vir oudisies aan te meld. Pieter van der Byl daag toe op met ʼn fietsraam waaraan ʼn ballontoetertjie geheg is. Dit was ʼn heel nuwe toevoeging tot die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld – aanvanklik het hy gesing en treffers geskep wat volksmusiek geword het, soos “Antjies, die rooibruinhen”.

Toe ek by Pieter de Waal oorneem as aanbieder, het Van der Byl en ek besluit om saam ʼn uitgebreide skakelteks te skryf met meer karakters as net Piet Pompies – ʼn vennootskap wat later sou uitloop op die ewe gewilde LM-radioprogram, Caltex-kaskenades.

Die koms van televisie het ongelukkig die einde beteken van komiese radio-verskeidenheidsprogramme. Maar Vrolikheid in die Koffiehuis het in die destydse Kaapse samelewing ʼn bepaalde rol gespeel. Tydens parlementsittings het lede van alle partye Vrydagaande hul opwagting gemaak en mettertyd kon ons nie voldoen aan al die versoeke om die program direk van Bolandse dorpe uit te saai nie. So, byvoorbeeld was die besoek aan die Langebaan-lugmagbasis ook gedenkwaardig.

Maar, die uitsending van die eiland af sal steeds ʼn besondere plek vul in die Afrikaans radiogeskiedenis.

  • Gerhard Roux is ʼn voormalige omroeper en sportkommentator en vier vanjaar sy 95ste verjaardag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

IK ·

Dit was ook gedurende die dertigerjare dat sangers fisies moes opdaag om dan lewend oor die eter te sing. As kind was ook Die Mielieblaarklub met oom Mertin (spelling?) baie gewild met die aanvang ‘Ons is die ridders van die mielieblaarklub, die mielieblaarklub . . . Ook ‘n tyd toe jou verbeelding ‘n rol gespeel het met die omgewing en hoe lyk die persone in ‘n storie. Dink hier aan Die Du Plooys van Soetmelksvlei van Jan Schutte. Ek het die boek wat vir ‘n appel en ei te koop was by ‘n biblioteek. Is dit toeval dat die kenwysie (Paganini) nou speel op Classic FM 102.7? Voel soos gister.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.