Hertzoggies is so Afrikaans soos melkkos en stokbrood. Wanneer laas het jy dit gemaak?
Maak 60 koekies
Bestanddele
DEEG
- 750 g (6 k) koekmeel
- 10 ml (2 t) bakpoeier
- 5 ml (1 t) sout
- 500 g (1 blok) CLOVER Mooi River-botter
- 500 ml (2 k) suiker
- 4 eiers
- 30 ml (2 e) CLOVER-volroommelk
VULSEL
- 185 ml (¾ k) fyn appelkooskonfyt
MERINGUE-BOLAAG
- 5 ekstragroot eierwitte
- 250 ml (1 k) strooisuiker
- 2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
- 500 ml (2 k) klapper
Metode
- Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.
- Vryf die botter by die meelmengsel in totdat dit soos fyn broodkrummels lyk.
- Roer die suiker by tot gemeng.
- Klits die eiers en melk saam. Roer dit by die meelmengsel tot ’n deeg vorm. As die deeg te styf is, kan nog ’n bietjie melk bygevoeg word tot ’n stywe maar hanteerbare deeg vorm.
- Plaas die deeg in ’n plastieksakkie en laat dit 30 minute lank in die yskas staan.
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer kolwyntjiepanne goed met botter.
- Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ongeveer 4 mm dik.
- Druk deegsirkels uit met ’n koekiedrukker van 6 cm in deursnee en plaas dit in die kolwyntjiepanne.
- Skep ongeveer 5 ml (1 t) appelkooskonfyt in elke deegdoppie.
- Maak die meringue-bolaag: Klits die eierwitte tot stywepuntstadium en klits dan die strooisuiker geleidelik by. Hou aan klits tot die meringue dik en glansend is. Roer die vanieljegeursel en klapper in.
- Skep genoeg meringue op elke koekie om die konfyt heeltemal te bedek.
- Bak dit 12 tot 15 minute of tot die meringue liggoudbruin is.
- Laat die koekies effens afkoel in die panne en plaas dit dan op ’n afkoelrakkie om heeltemal af te koel.
- Bêre dit in ’n lugdigte houer.
WENK: Die panne met deegdoppies kan met kleefplastiek bedek en in die yskas gebêre word tot benodig.
Uitgewer: Lapa
Het dit laas as kind in my ma se huis geeët. Elke Desember is die koekblikke volgemaak. Darem lekker tye gewees. Verlang nou sommer terug daarna. Wil julle nie sommer vir ons die Jan Smuts koekies se resep ook opsit nie?