17 seges op ʼn streep vir Sinner

Jannik Sinner is steeds onstuitbaar op ’n tennisbaan. (Foto: Clive Brunskill/Getty Images/AFP)

Jannik Sinner het sy 17de wedstryd op ʼn streep gewen toe hy Jan-Lennard Struff in die Indian Wells-toernooi geklop het.

Die eindtelling was 6-3 en 6-4 in die Australiese Ope-kampioen se guns.

Volgens die 22-jarige Italianer was aggressiewe spel die perfekte teenvoeter vir Struff se vurige afslaanwerk.

“Dit was by tye ʼn taai storie. Ek weet dat afslaanwerk sy sterk punt is, terwyl hy ook altyd op die uitkyk vir wenhoue is; daarom het ek probeer om so aggressief as moontlik te bly,” het Sinner gesê.

In ʼn ander wedstryd het Carlos Alcaraz sy agtste agtereenvolgende oorwinning in Kalifornië behaal toe hy op ʼn drafstap met Felix Auger-Aliassime klaargespeel het.

Die Spanjaard het die kragmeting met 6-2 en 6-3 beklink.

“Ek was veral vandag tevrede met die wyse waarop ek sy afslaanvrae beantwoord het. Ek het ook aggressiewe spel opgedis en min foute gemaak. Dit was amper die perfekte wedstryd vir my gewees.”

In die vroueafdeling is spelers soos Iga Swiatek, Caroline Wozniacki en Angelique Kerber deur na die volgende ronde van die gewilde toernooi.

Uitslae:

Caroline Wozniacki klop Katie Volynets met 6-2, 4-6 en 6-0

Angelique Kerber klop Veronika Kudermetova met 6-4 en 7-5

Yulia Putintseva klop Madison Keys met 6-4 en 6-1

Iga Swiatek klop Linda Noskova met 6-4 en 6-0

Alexander Zverev klop Tallon Griekspoor met 7-6 en 6-3

Jannik Sinner klop Jan-Lennard Struff met 6-3 en 6-4

Carlos Alcaraz klop Felix Auger-Aliassime met 6-2 en 6-3

Alex de Minaur klop Alexander Bublik met 7-5 en 6-0

Stefanos Tsitsipas klop Frances Tiafoe met 6-3 en 6-3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.