Alcaraz kyk vorentoe ná nederlaag

Carlos Alcaraz is deur Alexander Zverev uitgeskakel. (Foto: X/Australiese Ope)

Carlos Alcaraz sal nog ʼn rukkie langer moet wag om sy eerste Australiese Ope-titel in te oes. Die 20-jarige speler is deur Alexander Zverev in die kwarteindstryd van die Grand Slam-toernooi in Melbourne uitgeskakel.

Die eindtelling was 6-1, 6-3, 6-7 en 6-4 in die Duitser se guns.

Ondanks die nederlaag is Alcaraz tevrede met sy vertoning in veral die derde stel van die kragmeting.

“Ek is bly dat ek daardie stel met goeie tennis kon afsluit en dit is ʼn jammerte dat ek dit nie kon volhou nie. Ek het in die daaropvolgende stel ook nie te sleg gespeel nie, maar dit was nie my beste nie,” het die Spaanse tenniskroonprins gesê.

Volgens Alcaraz sal hy doodeenvoudig moet beter speel wanneer sy teenstanders hom onder druk plaas.

“Zverev het baie goed afgeslaan en hy het my met elke hou onder druk geplaas. Dit is waaraan ek moet werk; veral met die oog op die toekoms. Dit is ʼn jammerte oor my spel in dié wedstryd.”

Hy het ook die toeskouers vir hul ondersteuning bedank.

“Ek kon ʼn vierde stel danksy hul aanmoediging afdwing; hulle het beslis my energievlakke ʼn hupstoot gegee. As dit nie vir hulle was nie, was die wedstryd waarskynlik reeds ná drie stelle iets van die verlede.”

Zverev speel Vrydag in een van die halfeindstryde teen Daniil Medvedev, terwyl Novak Djokovic teen Jannik Sinner in die ander uitklopwedstryd kragte meet.

  • Uitslae:

Mans:

Alexander Zverev klop Carlos Alcaraz met 6-1, 6-3, 6-7 en 6-4

Vroue:

Aryna Sabalenka klop Coco Gauff met 7-6 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.