Alcaraz, Sinner in epiese kwarteindstryd

Carlos Alcaraz het op die grond neergeval nadat hy die epiese kwarteindstryd teen Jannik Sinner gewen het. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Carlos Alcaraz is 19 jaar oud. Jannik Sinner is 21 jaar oud. Selfs al tel jy hul ouderdomme bymekaar, is hulle steeds jonger as die 41-jarige Roger Federer.

Tog het Alcaraz en Sinner in ʼn epiese Amerikaanse Ope-kwarteindstryd gewys dat hulle die toekoms van wêreldtennis is.

Alcaraz het sy Italiaanse teenstander met 6-3, 6-7, 6-7, 7-5 en 6-3 geklop om sy plek in die halfeindstryd van die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar te bespreek.

Die kragmeting het vyf uur en 15 minute geduur – die tweede langste wedstryd in die toernooi se geskiedenis – en die wenhou is eers om 02:50 (VSA-tyd) geslaan.

“Ek dink dit was die beste wedstryd van my hele loopbaan. Van begin tot einde het ek en Jannik uitstekende tennis gespeel,” het Alcaraz gesê.

“Ek kan met sekerheid sê dat nie een van ons hierdie wedstryd sommer sal vergeet nie.”

Sodoende het die Spaanse ster nóg ʼn paar rekords agter sy naam geskryf: Hy is nie net die jongste semi-finalis in ʼn Grand Slam-toernooi sedert Rafael Nadal se Franse Ope-heldedade van 2005 nie, maar hy is ook die jongste speler in 32 jaar om in die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope te speel.

Ja-nee, die toekoms van wêreldtennis is inderdaad in goeie hande.

“Solank as wat Rafa, Novak (Djokovic) en Federer nog speel, sal hulle tweestryde die belangrikste wedywering op die internasionale verhoog wees. Maar ek en Jannik het vandag gewys dat daar ook baie lang loopbane op ons wag. Ek voorspel dat ons nog baie wedstryde teen mekaar sal speel.”

Alcaraz speel môre in een van die halfeindstryde teen Frances Tiafoe. Die 24-jarige Amerikaner het gister met Andrey Rublev klaargespeel.

  • Die langste wedstryd in die geskiedenis van die Amerikaanse Ope was die 1992-halfeindstryd tussen Stefan Edberg en Michael Chang.

Die wedstryd het vir vyf uur en 26 minute aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.