Ambisieuse Carlos droom groot

Oog op die bal. Carlos Alcaraz in aksie in Melbourne. (Foto: X/ATP)

Carlos Alcaraz is in Buenos Aires vir die Argentinië-ope en die jong speler is slaggereed om nie net sy titel te verdedig nie, maar om ook aan sy drome vlerke te gee.

“Ek is ʼn baie mededingende persoon, ambisieus en ek wil altyd alles wen. Dit dien natuurlik as motivering om hard te oefen en om aan toernooie deel te neem met die doelwit om titels te wen,” het die Spanjaard gesê.

Alcaraz het verlede jaar sy tweede Grand Slam-titel met ʼn titaniese vertoning in die Wimbledon-eindstryd teen Novak Djokovic ingeoes. Hy erken dat die 36-jarige Serwiër se veerkragtigheid en vernuf op die baan hom ook tot hoër hoogtes aanspoor.

“Om vir Djokovic heel bó aan die tennisranglys te sien – saam met die ander spelers wat toernooie wen – stook ook my ambisievuur om op hul vlak te speel. Dieselfde kan gesê word van die sport se Groot Drie (Djokovic, Roger Federer en Rafael Nadal); ek wil die gaping tussen ons kleiner maak.”

“Ek is inderdaad iemand wat groot droom en ek wil die beste speler nóg wees.”

Hy het bygevoeg dat hy graag met ʼn Olimpiese goue medalje in sy vertoonkas wil spog.

“As ek vanjaar ʼn spesifieke doelwit moet kies, sal ek waarskynlik Olimpiese sukses bó die Franse Ope op Roland-Garros plaas. Ek is tans tevrede met my spelpeil en ek is normaalweg ʼn kleibaankrag,” het Alcaraz aan AFP gesê.

Djokovic het verlede jaar erken dat sy tweestryd met Alcaraz “goed” vir wêreldtennis is.

“Carlos gaan nog lank deel van die ATP-toer wees, terwyl my speeluurglas besig is om leeg te loop. Ek sal daarvan hou as ons weer teen mekaar kan speel – die no. 1- en no. 2-speler ter wêreld wat mekaar in vyf stelle opdreun. Dit is baie goed vir tennis,” het die 36-jarige Serwiër gesê.

Alcaraz het twee van sy vyf wedstryde teen die wêreld se voorste speler gewen.

Novak Djokovic wens vir Carlos Alcaraz geluk met sy Wimbledon-titel. (Foto: Tetsu Joko/The Yomiuri Shimbun via AFP)

ATP-ranglys:

  1. Novak Djokovic 9 855 punte
  2. Carlos Alcaraz 9 255 punte
  3. Daniil Medvedev 8 765 punte
  4. Jannik Sinner 8 070 punte
  5. Andrey Rublev 5 050 punte
  6. Alexander Zverev 5 030 punte
  7. Holger Rune 3 695 punte
  8. Hubert Hurkacz 3 595 punte
  9. Taylor Fritz 3 150 punte
  10. Stefanos Tsitsipas 3 025 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.