Aryna en Coco kruis weer rakette

Aryna Sabalenka en Coco Gauff speel weer in ’n groot wedstryd van ’n Grand Slam-toernooi. (Foto: Sarah Stier/Getty Images/AFP)

ʼn Trotse rekord gaan Donderdag in die slag bly wanneer Aryna Sabalenka en Coco Gauff in een van die halfeindstryde van die Australiese Ope rakette kruis.

Sabalenka het laas in 2021 ʼn wedstryd op die Rod Laver-baan verloor, terwyl Gauff nog onoorwonne in 2024 is.

Boonop is die komende stryd ook ʼn herhaling van verlede jaar se Amerikaanse Ope-eindstryd toe Gauff haar Belarussiese teenstander geklop het.

Volgens Sabalenka, die verdedigende kampioen in Melbourne, is sy opgewonde om weer teen Gauff te speel.

“Ná die Amerikaanse Ope is ek omtrent oorgehaal om haar ʼn ding of twee op die baan te wys. Dit is altyd ʼn taai stryd om teen Coco te speel en ek kan nie vir die halfeindstryd wag nie,” het die wêreld se naasbeste speler gesê.

Sabalenka het vir Barbora Krejcikova met 6-2 en 6-3 geklop om vir die kragmeting te kwalifiseer, terwyl Gauff ʼn bietjie harder moes werk om met Marta Kostyuk klaar te speel.

Die eindtelling was 7-6, 6-7 en 6-2 in die Amerikaner se guns.

In die mansafdeling wag daar Vrydag ʼn watertand‑ontmoeting tussen Novak Djokovic en Jannik Sinner.

Die jong Italianer is een van die min spelers wat weet hoe dit voel om met die Serwiese ster af te reken: Hy het Djokovic in ʼn onlangse Davisbeker-kragmeting met 6-2, 2-6 en 7-5 geklop.

  • Uitslae:

Mans:

Jannik Sinner klop Andrey Rublev met 6-4, 7-6 en 6-3

Daniil Medvedev klop Hubert Hurkacz met 7-6, 2-6, 6-3, 5-7 en 6-4

Vroue:

Dayana Yastremska klop Linda Noskova met 6-3 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Barbora Krejcikova met 6-2 en 6-3

Coco Gauff klop Marta Kostyuk met 7-6, 6-7 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.