Australiese Ope: Čilić stamp Edmond uit sy pad

Marin Čilić – deur na eindstryd. (Foto: Facebook)

Die Kroaat Marin Čilić staan vierkant in Roger Federer, of dalk nog die Suid-Korean Hyeon Chun se pad in Sondag se eindstryd van die Australiese Ope-tennistoernooi.

Čilić het Donderdag die Brit Kyle Edmond met 6-2, 7-6 (7-4), 6-2 uitgeskakel om na sy eerste eindstryd in Melbourne deur te dring.

Edmond, wat ondanks sy nederlaag van 49ste tot 25ste op die wêreldranglys sal opskuif, het behandeling vir ʼn besering in die derde stel ontvang, maar die slag was toe al reeds gelewer.

“Ek het in die derde pot van die derde stel opgemerk dat hy nie by ʼn paar balle kon uitkom nie.

Ek kon sien dat sy beweging beperk was en het hom rondgejaag,” het Čilić sonder veel simpatie aan die BBC gesê.

Čilić, wat in 2014 die Amerikaanse Ope gewen het, sal in sy vyfde Grand Slam-eindstryd speel.

Die lenige Kroaat het baie goed afgeslaan en het net vyf punte op sy eerste afslaan verloor. As sy afslane in Sondag se eindstryd (teen die wenner van Vrydag se halfeindstryd tussen Federer en Chung) weer met reëlmaat die kol tref, sal hy ʼn besliste kans hê.

Hy is boonop baie aggressief, slaan die bal baie hard en beweeg heel vrylik.

♦ In Saterdag se eindstryd van die vroue-enkelspel sal die eerste gekeurde Simona Halep van Roemenië teen die tweede gekeurde Caroline Wozniacki van Denemarke speel.

Dis is ʼn droomeindstryd vir die organiseerders, veral omdat die toernooi ʼn bietjie van sy glans verloor het omdat Serena Williams nie kon speel nie en Maria Sharapova uitgeskakel is.

Halep het Angelique Kerber van Duitsland met 6-4, 4-6, 9-7 geklop nadat sy twee wedstrydpunte in ʼn epiese derde stel moes afweer.
Wozniacki het Elise Mertens van België met 6-3, 7-6 (7-2) uitgeskakel.

“Dit was baie straf. Ek ruk. Ek’s emosioneel,” het Halep gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.