Bafana ‘honger’ vir Afrika-sukses

Hugo Broos vier Bafana Bafana se sukses saam met Themba Zwane en Khuliso Mudau. (Foto: Franck Fife/AFP)

Ronwen Williams se doelwagterheldedade teen die Kaap Verdiese Eilande het die afgelope naweek gesorg dat Bafana Bafana vir die eerste keer in meer as 20 jaar vir die halfeindstryd van die Afrikabeker kwalifiseer.

Nou sal die ganse span op hul beste moet wees indien hulle Woensdagaand met Nigerië op die Stade de la Paix wil afreken.

Suid-Afrika kon immers nog nooit met die Super Arende in die Afrika‑toernooi klaarspeel nie.

Afrigter Hugo Broos is dit ook eens dat sy spelers nou beter sal moet vertoon as in die kwarteindstryd. Hy het juis die kragmeting teen die Kaap Verdiese Eilande as die span se swakste vertoning van die toernooi bestempel.

“Maar in dieselfde asem is om te wen seker belangriker as hoe jy wen. Kom ons hou duim vas dat ons Woensdag vir ʼn opskudding kan sorg want ons is honger om in Sondag se eindstryd te speel,” het die 71-jarige Belg gesê.

Broos het al vantevore Afrika‑sukses gesmaak – hy het in 2017 die silwerware saam met Kameroen omhoog gehou.

Volgens die oudspeler is hy nie ʼn bygelowige persoon nie, maar daar is ooreenkomste tussen Suid-Afrika en Kameroen se Afrikabeker-lopies.

“Vreemd genoeg volg al twee spanne min of meer dieselfde paadjie. Niemand het ook destyds in Kameroen geglo nie en ons het met die louere weggestap. Kom ons hoop dat Suid-Afrika se veldtog op dieselfde manier sal uitdraai.”

Hy meen egter dat die Bafana-spelers reeds ʼn klop op die skouer verdien.

“Bitter min mense het in die span geglo, maar die spelers het geglo dat enigiets moontlik is. Om in die halfeindstryd te speel is ʼn baie goeie ding vir Suid-Afrikaanse sokker.”

Broos glo dat die goeie vertoning ʼn uitstekende wegspringplek vir hernieude belangstelling in plaaslike sokker is.

“Ek hoop dat almal nou oortuig is dat die gehalte van die PSL (Premiersokkerliga) moet verbeter. Ons sal beslis daaraan moet werk.”

Die halfeindstryd begin Woensdag om 19:00.

  • Die spanne se pad na die halfeindstryd:

Suid-Afrika:

0-2 teen Mali

4-0 teen Namibië

  • teen Tunisië

2-0 teen Marokko

  • teen die Kaap Verdiese Eilande (Suid-Afrika wen strafdoelstryd met 2-1)

Nigerië:

  • teen Ekwatoriaal-Guinee

1-0 teen Ivoorkus

1-0 teen Guinee-Bissau

2-0 teen Kameroen

1-0 teen Angola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.