Basta met handdoek-ingooi, sê Nadal

Rafael Nadal vier gister se titaniese kwarteindstryd-oorwinning op Wimbledon. Foto: Twitter.

Dit was nie vir hom maklik nie, maar Rafael Nadal is deur na nóg ’n halfeindstryd in ’n Grand Slam-toernooi nadat hy vir Taylor Fritz in ’n titaniese stryd met 3-6, 7-5, 3-6, 7-5 en 7-6 geklop het.

Die 36-jarige Spanjaard het met ’n maagspier-probleem gesukkel wat veral ’n invloed op sy afslane gehad het. Hy moes in die tweede stel mediese behandeling ontvang.

“My span het my aangeraai om eerder handdoek in te gooi as om met die wedstryd voort te gaan. Ek het so iets al ’n paar keer vantevore in my loopbaan gedoen en niks daarvan gehou nie. Daarom het ek besluit om aan te hou veg; en basta met die res,” het Nadal ná afloop van die wedstryd gesê.

Om vir sy afgewaterde afslaanwerk te vergoed het die Spanjaard baie meer aggressiewe houe begin speel – amper soos toe Graeme Pollock in 1966 met ’n beseerde dyspier teen die Aussies gekolf het – en Fritz moes omtrent bontstaan.

Tog toon die Amerikaner se tennisloopbaan ’n definitiewe opwaartse kurwe en hy het die derde stel gewen.

Nadal het egter daarna die twee oorblywende stelle danksy pure wilskrag, vasberadenheid en veggees beklink om die wedstryd in vier uur en 20 minute te wen.

“In die geheel voel my lyf nie te sleg nie, dit was net die maagspierkwessie wat gelol het en ek moes noodgedwonge my afslane aanpas. Ek het ’n hele paar kere gedink dat ek nie die wedstryd sou kon klaarmaak nie, maar die toeskouers het my beslis aangevuur.”

Die tweemalige Wimbledon-kampioen speel in die halfeindstryd teen Nick Kyrgios nadat die Aussie in skoon stelle met Cristian Garin afgereken het.

Nadal het met ’n strak gesigsuitdrukking geluister toe hy hoor wie sy volgende teenstander is.

“Ek hoop dat ek reg sal wees om te speel. Nick is ’n goeie speler op alle baanoppervlakke, maar veral op gras. Hy het ’n sterk seisoen en dit gaan ’n taai uitdaging wees; ek sal beslis op my beste moet speel.”

Uitslae:

Simona Halep klop Amanda Anisimova met 6-2 en 6-4

Elena Rybakina klop Ajla Tomljanovic met 4-6, 6-2 en 6-3

Nick Kyrgios klop Cristian Garin met 6-4, 6-3 en 7-6

Rafael Nadal klop Taylor Fritz met 3-6, 7-5, 3-6, 7-5 en 7-6.

Vandag se bepalings:

Ons Jabeur teen Tatjana Maria (halfeindstryd)

Simona Halep teen Elena Rybakina (halfeindstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.