Binder-broers byt weer in die stof

Foto: Brad Binder/Instagram

Dit was weer ʼn uiters teleurstellende naweek vir die twee Binder-broers, Brad en Darryn.

Brad, wat in die 21ste plek weggespring het vir Sondag se Franse MotoGP op die Bugatti-baan by Le Mans, kon slegs 13de eindig vandag.

Die resies is deur die Australiër Jack Miller (Ducati) gewen, wat sy negende oorwinning behaal het nadat hy ook in die vorige MotoGP in Jerez in Spanje baas was.

Die vreugdevure gaan hoog in Australië brand, want Miller het hom by die Aussie-legende Casey Stoner gevoeg wat dit laas in 2012 kon regkry.

Wat Miller se vertoning nog merkwaardiger maak, is dat hy met twee langer rondtes beboet is (sowat 2,2 sekondes elk) omdat hy te vinnig in die kuipebaan gery het. Al die jaers het toe motorfietse omgeruil (gladde bande na natweer-bande) nadat dit begin reën het.

Johann Zarco (Ducati) was tweede en Fabio Quartararo (Yamaha) derde.

Quartararo is ook die nuwe voorloper op die kampioenskapspunteleer, slegs een punt voor Francesco Bagnaia .

Brad is algeheel elfde.

Moto3-ren

In die Moto3-ren kon Darryn Binder (Honda) slegs 20ste eindig. Die ren is deur Sergio Garcia (GasGas) gewen, met Filip Salac (Honda) tweede en Riccardo Rossi (KTM) derde.

Binder kon weer nie enige punte insamel nie, maar klou vas aan sy agtste plek.

Die jongeling Pedro Acosta is steeds voor, gevolg deur Garcia en Andrea Migno.

Die volgende ren is die Italiaanse Grand Prix op 30 Mei in Italië.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakez ·

Niks om oor skaam te wees nie, dis alreeds ‘n reuse prestasie net om op hierdie vlak deel te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.