Brad Binder agtste in Spanje

Brad Binder. Foto: Lluis Gene/AFP.

Dit was ʼn naweek sonder te veel drama vir die Binder-broers in die Kataloniese Grand Prix wat Sondagmiddag in Barcelona plaasgevind het.

In die MotoGP het Brad Binder (KTM) agtste geëindig met sy jonger boetie, Darryn, vyfde in die Moto3.

ʼn Mens moet sekerlik nie te veel in elke ren van die Binders verwag nie, maar dit bly ʼn openbaring dat hulle hul man staan teen die wêreld se beste motorfietsrenjaers en fabriekspanne.

In die MotoGP het KTM se Miguel Oliveira (KTM) die aanslag van Johann Zarco (Pramac) afgeweer met die Aussie Jack Miller (Ducati) derde.

Binder het 8,378 sekondes ná Oliveira klaargemaak.

Fabio Quartararo (Yamaha) was aanvanklik derde, maar hy is met drie sekondes beboet nadat hy in die 22ste rondte ʼn baanreël oortree het wat hom sy derde plek gekos het.

Daar was twee ongelukke in die agtste ronde wat Aleix Espargaro en Marc Marquez se renne beëindig het.

Net 15 jaers het die Grand Prix voltooi, nadat Iker Lecuona (Tech3) in die negende ronde ook ʼn ongeluk gemaak het.

Hy het hom toe by Valentino Rossi (SRT), Danilo Petrucci (Tech3), Pol Espargaro (Honda) en Marquez en Aleix Espargaro langs die baan aangesluit.

Quartararo (118) se voorsprong op die kampioenskapspuntelys het met 17 punte gekrimp met Zarco (101) in die tweede plek en Oliveira (64) wat tot sewende opgeskuif het.

Binder (43 punte) is negende.

* In die Moto3-ren was die Spanjaard Sergio Garcia (Gasgas) eerste gevolg deur Jeremy Alcoba (Honda) en Deniz Öncü (KTM). Hulle is gevolg deur Jaume Masia (KTM), Darryn Binder (Honda) en Gabriel Rodrigo (Honda).

Binder is steeds vyfde (58 punte) op die kampioenskapspuntelys.

Die jong Pedro Acosta (120) is steeds voor, gevolg deur Garcia en Masia.

Die volgende ren is die Duitse Grand Prix op 20 Junie op Sachsenring in Dresden.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.