Brons vir Bafana in Ivoorkus

Ronwen Williams in aksie. (Foto: X/Afrikabeker)

Bafana Bafana het die Afrikabeker-bronsmedalje ingeoes nadat hy die Demokratiese Republiek die Kongo met strafdoele (6-5) geklop het.

Ronwen Williams – kaptein en doelwagter – was weer eens sy span se groot held nadat hy twee belangrike strafdoelpogings op die Felix Houphouet-Boigny-stadion in Ivoorkus gefnuik het.

Dit is Suid-Afrika se beste Afrika-vertoning in 24 jaar.

Die strafdoelaksie het gekom nadat die telling gelykop (0-elk) in gewone speeltyd geëindig het. Al twee spanne het goeie sokker opgedis, maar die DRK-spelers het goed op die aanval gelyk.

Daarteenoor het Bafana Bafana bestendige spel gelewer voordat Williams weer sy akrobatiese vernuf voor die doelhok uitgestal het.

Die 32-jarige speler het ook in die kwarteindstryd teen die Kaap Verdiese Eilande uitgeblink toe hy vier skoppe weg van die doelhok gehou het.

Afrigter Hugo Broos het reeds in aanloop tot die bronsmedaljewedstryd gesê dat hy in sy noppies met sy span se vertoning is.

“Ek dink daar is baie mense in Suid-Afrika wat nie in die span geglo het nie, maar ons het in ons vermoëns geglo. Die spelers het geglo dat só iets kan gebeur en ek dink dit is ʼn baie goeie ding vir Suid-Afrikaanse sokker.”

Die voormalige Belgiese speler meen dat Bafana Bafana ʼn welkome momentuminspuiting gekry het.

“Mense stel weer belang in Suid-Afrikaanse sokker en dit is ʼn baie goeie ding.”

Bafana Bafana se pad na die bronsmedalje:

0-2 teen Mali

4-0 teen Namibië

0-0 teen Tunisië

2-0 teen Marokko

Klop die Kaap Verdiese Eilande met stafsdoele

Verloor teen Nigerië met strafdoele

Klop die Demokratiese Republiek die Kongo met strafdoele

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.