Broos trots ondanks nederlaag

Bafana Bafana het met strafdoele teen Nigerië in die halfeindstryd van die Afrikabeker verloor. (Foto: X/AFCON)

Die Super-Arende het vir die soveelste keer hoog gevlieg teen Bafana Bafana in ʼn Afrikabekerwedstryd.

Nigerië het Saterdag die twee spanne se halfeindstrydontmoeting op die Stade de la Paix met strafdoele beklink nadat die kragmeting gelykop (1-elk) geëindig het.

Die Wes-Afrikaspan se kaptein, Willam Troost-Ekong, het vir die eerste doel van die wedstryd gesorg, waarna Teboho Mokoena die spreekwoordelike kat in die Nigeriese duiwehok losgelaat het toe sy strafdoelpoging in die 90ste minuut die agterkant van die doelhok gevind het.

Bykomende tyd het na strafdoeltyd oorgespoel en Ronwen Williams – Suid-Afrika se held in die kwarteindstryd teen die Kaap Verdiese Eilande – kon dié keer nie al sy teenstanders se pogings fnuik nie.

Nigerië het die skerpskutter-tweestryd met 4-2 gewen om vir Sondag se eindstryd teen Ivoorkus te kwalifiseer. Daarteenoor moet Bafana Bafana Saterdag sake om die derde plek teen die Demokratiese Republiek die Kongo uitspook.

Volgens Hugo Broos kan sokker maar ʼn taai storie wees.

“Dit is moeilik om te aanvaar. Veral as ʼn mens na ons vertoning kyk en die feit dat strafdoele ʼn stokkie voor ons plek in die eindstryd gesteek het. Ek dink ons was die beste span in die eerste helfte en ons het die meeste kanse gehad. Nigerië het egter in die tweede helfte goed teruggekom,” het Suid-Afrika se afrigter gesê.

Die 71-jarige Belg is beslis in sy noppies met sy spelers se vertoning.

“Ek is baie, baie trots – nie net op vandag se wedstryd nie, maar ook op hul spel regdeur die toernooi. Teen die Kaap Verdiese Eilande het ons swak gespeel, maar die strafdoelstryd gewen. Nou het ons weer baie goed teen Nigerië gespeel, maar die kragmeting met strafdoele verloor.”

“Dit is hoe dinge maar in sokker verloop.”

Die voormalige Belgiese speler meen dat Bafana Bafana ʼn welkome momentuminspuiting gekry het.

“Mense stel weer belang in Suid-Afrikaanse sokker en dit is ʼn baie goeie ding.”

  • Doele:

Nigerië: William Troost-Ekong

Suid-Afrika: Teboho Mokoena

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ore ·

Wie was eerste op die maan? Almal weet. Wie was derde of vierde op die maan? Min mense sal kan antwoord. Bafana word verhef tot helde. Groot salarisse vir medium prestasie. Wonder of ons nog ‘n vakansiedag gaan kry as hulle derde of vierde eindig.

Windlawaai ·

Ek is ‘n sportondersteuner eerste. Nydige kommentaar is sinneloos. Niemand het jou gedwing om te kyk nie.

Fran ·

Hulle het uitstekend gespeel. ongelukkig om uit te val. Gee eer waar dit toekom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.