Carlos en Iga – koning en koningin van Kalifornië

Carlos Alcaraz het ’n vurige vertoning in die eindstryd van die Indian Wells-toernooi gelewer. (Foto: X/ATP)

Ná ʼn rits halfeindstryd-teleurstellings is Carlos Alcaraz weer ʼn trofeewenner nadat hy vir Daniil Medvedev in die eindstryd van die Indian Wells-toernooi geklop het.

Die jong Spanjaard speel weer op sy beste en die finale telling was 7-6 en 6-1 in sy guns.

Dit was sy eerste eindstrydtriomf sedert hy verlede jaar met Novak Djokovic op Wimbledon afgereken het en hy kon sy Indian Wells-titel suksesvol verdedig.

Volgens Alcaraz smaak die wenvonkelwyn nou ekstra soet omdat hy in aanloop tot die toernooi oor sy fiksheid bekommerd was nadat hy sy enkel in Rio de Janeiro seergemaak het.

“Die sege beteken vir my baie omdat ek maar baie oor my enkel getwyfel het. My eerste oefensessie saam met van die topspelers was ʼn taai storie en ek het nie gedink dat ek op my beste gaan wees nie. Maar toe ek eers in ʼn wedstrydsituasie op die baan stap, het alles skielik in plek geval,” het hy gesê.

Alcaraz het weer met sy vaart en atletiese vernuf op die baan beïndruk, terwyl hy sy Russiese teenstander met sy aggressiewe spel onder druk geplaas het.

Die Spaanse tennisster is nou oorgehaal om ook in Miami sy stempel af te druk.

“Wanneer jy ʼn toernooi wen, gee dit vir jou ʼn goeie momentuminspuiting vir die volgende een. Dis moeilik om in  ʼn ATP 1 000-toernooi te seëvier, maar dit sorg beslis vir bykomende selfvertroue en motivering.”

Swiatek wen agt potte op ʼn streep

Pole se Iga Swiatek het haar tweede Indian Wells-titel ingeoes toe sy vir Maria Sakkari met 6-4 en 6-0 oorrompel het.

Die wêreld se voorste speler was in ʼn veglustige bui en sy het die laaste agt potte van die wedstryd gewen om die kragmeting op ʼn drafstap te beklink.

Die hele storie – van die eerste afslaan tot die laaste punt – het net 68 minute geduur.

“Ek is baie trots op myself. Ja, dit mag dalk gelyk het of ek alles onder beheer gehad het, maar dinge het nie altyd volgens plan verloop nie. Ek is net dankbaar dat ek beter kon speel soos wat die toernooi gevorder het en veral my laaste twee vertonings het wondere vir my selfvertroue beteken,” het sy gesê.

Volgens Swiatek was sy veral op haar senuwees voor haar kwarteindstrydontmoeting teen Caroline Wozniacki.

“Ek het nie eintlik mooi geweet wat om te verwag nie want ons het lanklaas teen mekaar gespeel en ek het baie respek vir haar. Dit was wel een van daardie wedstryde waar jy net deur die spanning en senuwees moes werk. Ná daardie kragmeting het ek met baie meer vryheid gespeel.”

Dit is haar tweede Indian Wells-triomf nadat sy ook in 2022 met die einste Sakkari klaargespeel het. Die eindtelling was toe 6-4 en 6-1 in haar guns.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Daniil Medvedev met 7-6 en 6-1

Iga Swiatek klop Maria Sakkari met 6-4 en 6-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.