Carlos nog op koers om in Roger-spore te volg

Carlos Alcaraz is deur na die kwarteindstryd van die Miami-ope. (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Carlos Alcaraz is nog net drie oorwinnings weg om een van Roger Federer se prestasies te ewenaar.

Die Switserse tennislegende het in 2017 die “Sonskyn-dubbel” van die Indian Wells- en die Miami-Opetitel verower.

Met sy oorwinning teen Lorenzo Musetti het Alcaraz, wat vroeër die Indian Wells-silwerware omhoog gehou het, vir die kwarteindstryd van die Miami-toernooi gekwalifiseer.

Die eindtelling was 6-3 en 6-3 in die Spanjaard se guns.

Oudergewoonte kan sy vertoning veel eerder met ʼn rock-skouspel vergelyk word as ʼn panfluit-konsert.

“Ek het my bes gedoen om hom nie op die baan met rus te laat nie. Ek wou hom na my pype laat dans, ek het aggressief gespeel en in die geheel is ek baie tevrede met my vertoning,” het Alcaraz gesê.

Die wêreld se naasbeste speler het die bal met mening teruggeslaan, terwyl hy blitsig op die baan rondgeskarrel het om 23 wenhoue te moker.

“Ek voel baie goed op die baan. Ek beweeg sonder enige ongemak en dink glad nie meer aan my enkelbesering van vroeër nie.”

Hy sal in die kwarteindstryd teen Grigor Dimitrov te staan kom nadat die Bulgaarse speler vir Hubert Hurkacz met 3-6, 6-3 en 7-6 geklop het.

Uitslae:

Grigor Dimitrov klop Hubert Hurkacz met 3-6, 6-3 en 7-6

Jannik Sinner klop Christopher O’Connell met 6-4 en 6-3

Nicolas Jarry klop Casper Ruud met 7-6 en 6-3

Daniil Medvedev klop Dominik Koepfer met 7-6 en 6-0

Alexander Zverev klop Karen Khachanov met 6-1 en 6-4

Fabian Marozsan klop Alex de Minaur met 6-4, 0-6 en 6-1

Carlos Alcaraz klop Lorenzo Musetti met 6-3 en 6-3

Elena Rybakina klop Maria Sakkari met 7-5, 6-7 en 6-4

Victoria Azarenka klop Yulia Putintseva met 7-6, 1-6 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.