Covid-regulasies dalk stok in F1-wiel

Die Australiese Grand Prix is juis verlede jaar afgelas. Foto: Glenn Nicholls/AFP.

Die F1-kalenderjaar is veronderstel om op 21 Maart in Melbourne af te skop. Maar strenger Covid-19-regulasies in Australië beteken dat die wedren moontlik tot ’n latere datum uitgestel kan word.

Melbourne skud juis sy vere reg om sy eerste groot internasionale sportgebeurtenis in maande aan te bied met die Australiese tennis-ope wat in Februarie plaasvind, maar die plaaslike Victoria-regering het aangedui dat spelers vir 14 dae in kwarantyn moet wees.

Indien dieselfde regulasies in Maart vir die F1-wedren geld, kan dit die voorbereidingstyd van die renjaers en hul spanne in die wiele ry. Bahrein sal dan die eerste wedren van die jaar op 28 Maart aanbied.

Die F1-base het verlede jaar ’n voorlopige kalender vir die 2021-wedrenjaar bekendgestel en altesaam 23 wedrenne word beplan.

“Soos ons vroeër reeds gesê het, verwag ons dat toeskouers vir die 2021-seisoen sal terugkeer en ondersteuners kan na ’n kalender soortgelyk aan die oorspronklike beplanning vir 2020 uitsien,” het F1 destyds in ’n amptelike verklaring gesê.

Volgens Chase Carey, F1-voorsitter, het 2020 se wedrenne gewys dat sport suksesvol in die Covid-19-era aangebied kan word.

“Baie van die gasheerstede gebruik die wedrenne as ’n platform om vir die wêreld te wys dat hulle vorentoe kan beweeg en die virus kan bestuur,” het Carey gesê.

  • Die voorlopige F1-kalender vir 2021:

21 Maart: Australië

28 Maart: Bahrein

11 April: China

25 April: Moet nog bevestig word

9 Mei: Spanje

23 Mei: Monaco

6 Junie: Azerbeidjan

13 Junie: Kanada

27 Junie: Frankryk

4 Julie: Oostenryk

18 Julie: Verenigde Koninkryk

1 Augustus: Hongarye

29 Augustus: België

5 September: Nederland

12 September: Italië

26 September: Rusland

3 Oktober: Singapoer

10 Oktober: Japan

24 Oktober: VSA

31 Oktober: Mexiko

14 November: Brasilië

28 November: Saoedi-Arabië

5 Desember: Abu Dhabi

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.