CVO-skole hou Winterspele in Bloemfontein

Deur Jaco Kleynhans 

Ná twee jaar van inperkings het meer as 1 000 rugby- en netbalspelers van meer as 20 CVO-skole van regoor die land die afgelope naweek aan die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) se Winterspele in Bloemfontein deelgeneem.

Vanjaar se toernooi is deur die Noord-Kaapstreek, wat skole in Bloemfontein, Orania, Olifantshoek, Jan Kempdorp en Vryburg verteenwoordig, aangebied.

Ouers en ondersteuners het ver gereis en meer as 3 000 toeskouers was by die sportskouspel wat van Donderdag tot Saterdag by Hoërskool Sentraal aangebied is, teenwoordig. Die toernooi het op ’n yskoue noot afgeskop met reën wat verlede week in die Vrystaat geval het en wat vir sopnat rugbyvelde gesorg het. Binne enkele ure is daar Donderdag 3 000 pannekoeke deur Dankbaar CVO-skool by hulle kosstalletjie verkoop.

Geen rugby- of netbalspeler was egter bang vir die koue en nat weer nie en ’n skouspel van harde rugby en netbal, maar in goeie sportmangees, het oor die drie dae plaasgevind. Ná twee jaar wat daar nie op nasionale vlak rugby- en netbaltoernooie kon plaasvind nie, was dit heerlik vir kinders, afrigters en ouers om weer saam te kuier en die beste sporttalent uit CVO-skole te waardeer. Daar is in netbal en rugby vanaf die voorskoolse Bulletjie en Poplap-spanne tot op o.19-vlak deelgeneem.

Na afloop van die toernooi is nasionale spanne vir o.13 en o.19 in rugby en netbal aangewys. Rian de Necker van die Noord-Kaapstreek is aangewys as die speler van die toernooi. Bielie Dafel, ook van die Noord-Kaap, is as beste voorspeler aangewys. Bernice Robbertze, nog ’n Noord-Kapenaar, is as beste middelveldspeler in netbal aangewys. Al drie hierdie leerlinge is in Orania CVO-skool. Reinette Nienaber en Estené Brits, albei van Oos-Transvaalstreek, is onderskeidelik as die beste doel en beste verdediger van die toernooi aangewys.

Daar is 29 CVO-skole versprei oor sewe van Suid-Afrika se provinsies. Dié groep privaatskole fokus op ’n Afrikanerkultuureie en Christelike onderrigmodel. Ds. Schalk Strauss, hoof van die Lig in Duisternis-uitgewery en self ʼn CVO-ouer, het die Winterspele geopen en weer Saterdag afgesluit met ’n boodskap oor hoe elke mens ook in die wedstryd van die lewe moet besef dat God die skeidsregter is wat vir elkeen van ons die eindfluitjie op sy tyd sal blaas.

Leerlinge van verskeie CVO-skole sal tydens die skoolvakansie ook aan die jaarlikse Bokkieweek-toernooi in Kroonstad deelneem. Vanjaar se Winterspele in Bloemfontein is onder die bekwame leiding van Pieta Oosthuizen, skoolhoof van Dankbaar CVO-skool, en Hannes Swanepoel, voorsitter van die Noord-Kaap Sportraad, georganiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kaplyn ·

Geluk CVO!!! Ons is trots op julle! My kind was ook in Dankbaar CVO en saam met Schalk Strauss in die klas wat natuurlik nie, net ‘n CVO ouer is nie, maar ook ‘n CVO kind. Julle maak die Afrikaner trots en bou ons Christelike Calvinistiese nalatingskap van ons voorouers uit. Voorwaards!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.