Dié doel is netbal-mal

Ine-Marí Venter hóú van netbal.

Ja, dit is dalk ’n effens vanselfsprekende stelling om ’n sportberig mee te begin – veral as die persoon oor wie daar geskryf word nog boonop vir die Proteas speel.

Netbal is dan immers haar werk, of hoe?

Maar die 26-jarige speler hou rêrig-êrig van die aksie op die baan.

“Dit is eintlik ’n kombinasie van dinge wat netbal vir my lekker maak. Enigiemand kan dit speel, ongeag van jou lengte of bou. Ek hou ook van die wedywering en die vriendskappe wat ’n mens op die baan smee – veral op internasionale vlak,” het sy aan Maroela Media gesê.

Die Proteas meet vanaf Saterdag kragte teen Engeland, Nieu-Seeland en Australië in Londen. Venter sal saam met spelers soos Sigrid Burger en Lefébre Rademan in die Suid-Afrikaners se doelsirkel diens doen.

Betroubaarheid en kalm bly onder hewige druk is van die belangrikste eienskappe waaroor ’n speler in die doelgebied moet beskik. Gelukkig baljaar sy reeds van jongs af in die doelsirkel.

“Ek het tot 12-jarige ouderdom hulpdoel (HD) gespeel, waarna ek doel toe geskuif is. Onlangs trek ek egter weer die HD-beffie oor my kop.”

Foto: Verskaf.

Sy vertel dat lengte (sy laat die maatband na 1,92 m rek) ongetwyfeld van hulp is, maar dat jy nie uitsluitlik daarop kan staatmaak nie – ’n les wat sy vroeg in haar loopbaan geleer het.

“As jy egter harde werk en goeie vaardighede by jou lengte voeg, gee dit jou beslis ’n hupstoot in die doelsirkel.”

’n Vinnige soektog op die internet toon dat Venter reeds in 2016 haar internasionale buiging gemaak het.

“Dit is moeilik om die gevoel te beskryf wanneer jy vir die eerste keer in jou Protearokkie op die baan draf – ’n mens ervaar ’n stortvloed van verskillende emosies.”

En dit is nie asof ’n internasionale speler sommer daardie gevoel ná ’n paar wedstryde verloor nie.

“Elke keer wanneer jy op die baan stap of die volkslied sing, keer al die emosies terug. ’n Mens sal altyd daardie trots in jou hart hê om Suid-Afrika te verteenwoordig.”

Sy het al kuipstoppe by die Gauteng Jaguars, Melbourne Vixens en Queensland Firebirds in haar eersterangse netballoopbaan gemaak. Deesdae speel sy vir die Saracens Mavericks in Engeland; ’n skuif wat haar opgewonde maak.

“Die grootste verskil is dat ek hier baie meer baantyd kry. Dit is die eerste keer dat ek vir langer as ’n seisoen by ’n betrokke span bly en ek sien uit daarna om op die span se vertoning van 2021 voort te bou.”

Foto: Dominic Barnardt/Varsity Sports/Verskaf.

Baie van haar Engelse spanmaats werk nog voltyds en die span oefen ses dae per week. Maar omdat sy ’n professionele speler is, probeer sy om ’n paar bykomende sessies in te werk.

Haar netbaldroom?

Om ’n medalje vir Suid-Afrika by ’n groot internasionale uitkloptoernooi (soos die Wêreldbeker of Statebondspele) te wen.

“Om te speel en op die podium te staan is twee heeltemal verskillende dinge. Dan wag ek nog vir die dag dat netbal ’n Olimpiese sport word; hopelik speel ek nog wanneer dit wel by die Spele ingesluit word!”

Venter droom ongetwyfeld met ’n glimlag op haar gesig. En dit sal net groter word wanneer haar doelwitte ’n werklikheid word.

  • Bepalings vir die Proteas se vierhoekige reeks in Londen:

Saterdag om 15:45: Suid-Afrika teen Engeland

Sondag om 16:00: Suid-Afrika teen Australië

Dinsdag om 19:15: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

Woensdag: Uitspeelwedstryde begin om 19:15

Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.