Proteas speel Saterdag teen Rose

Die Spar Proteas is weer hierdie naweek in aksie. Foto: Netball SA/Twitter

Die Protea-netbalspan speel hierdie Saterdag teen Engeland in hul openingswedstryd van die vierhoekige reeks in Londen.

Hulle sal daarna met Australië (Sondag) en Nieu-Seeland (Dinsdag) kragte meet voordat die uitspeelwedstryde Woensdag begin.

Volgens Bongi Msomi, die span se ervare kaptein, is die Suid-Afrikaners oorgehaal om ’n sterk vertoning teen van die wêreld se voorste netballande te lewer.

“Dit is altyd ’n eer om ons land op die netbalbaan te verteenwoordig. Almal voel baie positief en as senior spelers is dit ons taak om die jonger meisies gedurende die reeks by te staan,” het Msomi gesê.

Dorette Badenhorst (afrigter) is opgewonde oor die komende uitdaging – veral met die Statebondspele om die draai.

“Om teen die beste spanne ter wêreld te speel is ’n goeie aanduiding van jou eie vermoë as ’n span. Ek is bly dat ons ’n geleentheid kry om op hierdie vlak mee te ding. Boonop is hierde een van ons laaste wedstrydsessies vóór die Statebondspele,” het Badenhorst gesê.

Covid-19-regulasies het beteken dat die span vir ’n week voor hul vertrek na Engeland hulle moes isoleer, maar Netbal SA het in ’n verklaring gesê dat daar nog geen positiewe gevalle onder die Suid-Afrikaners is nie.

Engeland se Jo Harten het egter positief vir die virus in Australië getoets en sy sal die reeks misloop.

Protea-groep: Sigrid Burger, Ine-Marí Venter, Lefébre Rademan, Elmere van der Berg, Jessica du Plessis, Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Tshinakaho Mdau, Bongi Msomi (kaptein), Simone Rabie, Monique Reyneke, Phumza Maweni, Nicola Smith en Zanele Vimbela.

  • Bepalings:

Saterdag om 15:45: Suid-Afrika teen Engeland

Sondag om 16:00: Suid-Afrika teen Australië

Dinsdag om 19:15: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland:

Woensdag: Uitspeelwedstryde begin om 19:15

Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Hou Maroela Media gerus môre dop vir ’n onderhoud met Ine-Marí Venter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Netbal SA het reeds ondek dat keuses berus op meriete en hierdie spelers , ongeag kleur, is werklik goed.

Casper ·

Ek is bly jy dink so Hendrik maar ongelukkig verskil ek van jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.