Die Medvedev-era begin vandag

Daniil Medvedev. Foto: Paul Crock/AFP.

Met Rafael Nadal se sukses in Mexiko en Novak Djokovic se teleurstelling in Dubai wat die sportkoerantopskrifte oorheers, verdien Daniil Medvedev se prestasie ook die nodige blootstelling.

Die Medvedev-era begin amptelik vandag.

Die 26-jarige Rus is nou die wêreld se voorste manstennisspeler nadat hy Djokovic op die ATP-ranglys onttroon het.

“Natuurlik is ek baie dankbaar om as die wêreldno. 1-speler bekend te staan,” het Medvedev gesê.

“Dit is ’n droom wat ek van kleins af koester en dit was veral onlangs my hoofdoel op die baan gewees. Ek het soveel boodskappe van ondersteuners en medespelers ontvang en ek wil almal vir hul ongelooflike ondersteuning bedank.”

Met die Moskou-boorling op die troon is dit die eerste keer in 18 jaar dat nóg Djokovic nóg Nadal, Roger Federer of Andy Murray die wêreldno. 1-speler is.

Volgens die ATP is Medvedev ook die langste speler (1,98 m) en die sesde oudste in die sport se geskiedenis om die tennissepter boaan die ranglys te swaai.

Hy het intussen ook vir vrede gepleit nadat Rusland verlede week vir Oekraïne ingeval het.

Medvedev het ná die eindstryd van die Australiese Ope ’n storie oor sy kinderjare vertel en hoe hy van tennisglorie gedroom het.

“Vandag wil ek egter namens elke kind in die wêreld praat. Hulle het soveel drome en nuwe dinge om te ervaar; daarom vra ek vir vrede in die wêreld en vrede tussen lande.

“Kinders het ongelooflike vertroue en hulle is so onskuldig – hulle glo in mense, in liefde, vryheid en regverdigheid. Kom ons staan saam en wys vir hulle dat dit inderdaad so is, want kinders moet nooit ophou droom nie.”

  • Jongste ATP-ranglys:
  1. Daniil Medvedev 8 615 punte
  2. Novak Djokovic 8 465 punte
  3. Alexander Zverev 7 515 punte
  4. Rafael Nadal 6 515 punte
  5. Stefanos Tsitsipas 6 445 punte
  6. Andrey Rublev 5 000 punte
  7. Matteo Berrettini 4 928 punte
  8. Casper Ruud 3 915 punte
  9. Felix Auger-Aliassime 3 883 punte
  10. Hubert Hurkacz: 3 496 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Doen dieselfde met Russiese sportlui as wat destyds met SA sportlui gebeur het. Stroop hulle van alle posisies op wêreld ranglyste en hulle sportlui mag nêrens oorsee deelneem nie. Wêreld sport is ‘n magtige “tool”.

Treurwilger ·

Veels geluk!
Medvedev is ‘n waardige opvolger vir Novak, die beste no. 1 ooit.

Niklaas ·

En dit eindig oor een maand , weens sy groot meester Putin se kaperjolle daar in Oekraïne .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.