Dis deesdae rof teen Dimitrov

Vreugde op die tennisbaan. Grigor Dimitrov het vir Carlos Alcaraz in Miami uitgeskakel. (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Grigor Dimitrov swaai deesdae die septer teen Carlos Alcaraz op die tennisbaan.

Nadat die Bulgaarse speler verlede jaar met die louere in Sjanghai weggestap het, het hy nou ook in Miami geseëvier.

Dimitrov het hul kwarteindstryd-ontmoeting met 6-2 en 6-4 gewen om die Spanjaard se droom van ʼn “Sonskyn-dubbel” met ʼn paar goedbrekende wenhoue (24 om presies te wees) tot ʼn einde te bring.

“Wanneer jy vir Carlos wil klop moet jy op jou heel beste wees. Ek het vandag met ʼn definitiewe wedstrydplan op die baan gestap en ek het geweet wat om te doen,” het die 32-jarige speler gesê.

Dimitrov het die jong speler se afslane met mening teruggeslaan, terwyl hy ook ʼn meester naby die net was.

“Soms is dit beter om dinge so eenvoudig as moontlik te hou – iets wat weliswaar nie maklik teen ʼn speler van sy gehalte is nie. Ek kon egter die spel goed lees en ek is baie bly dat ek in twee stelle kon wen.”

Hy sal in die halfeindstryd teen Duitsland se Alexander Zverev te staan kom en sy Alcaraz-triomf was sy 19de oorwinning van 2024.

In Saterdag se vroue-eindstryd sal die VSA se Danielle Collins teen Elena Rybakina van Kasakstan te staan kom.

Uitslae:

Danielle Collins klop Ekaterina Alexandrova met 6-3 en 6-2 (halfeindstryd)

Elena Rybakina klop Victoria Azarenka met 6-4, 0-6 en 7-6 (halfeindstryd)

Grigor Dimitrov klop Carlos Alcaraz met 6-2 en 6-4 (kwarteindstryd)

Alexander Zverev klop Fabian Marozsan met 6-3 en 7-5 (kwarteindstryd)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.