Dis Djokovic teen Alcaraz in Turyn

Novak Djokovic en Carlos Alcaraz. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI via AFP)

Novak Djokovic sal later vandag rakette met Carlos Alcaraz in die halfeindstryd van die ATP-eindronde in Turyn kruis.

Die 20-jarige Spanjaard het vir Daniil Medvedev met 6-4 en 6-4 geklop om die watertand-ontmoeting te bewerkstellig.

“Ek hoop die wedstryd sal ʼn herhaling wees van wat op die hoofbaan van Wimbledon gebeur het. Ek gaan op my beste probeer wees. Teen ʼn speler van Novak se kaliber moet jy geestelik baie sterk wees en ek sal so gou moontlik met my voorbereiding moet begin,” het Alcaraz gesê.

Die Spaanse tenniskroonprins het vroeër in ʼn titaniese Wimbledon-eindstryd vir Djokovic met 1-6, 7-6, 6-1, 3-6 en 6-4 geklop, maar die Serwiër het hom in eie munt terugbetaal toe hy in die eindstryd van die ATP-meesterstoernooi in Cincinnati geseëvier het.

“Ek hoop van harte dat Novak ook op alle suiers sal vuur. Ons is in die halfeindstryd van die ATP-eindronde; ʼn toernooi wat hy reeds ses keer gewen het. Hy weet dus hoe om hierdie soort wedstryde te benader en hy sal ongetwyfeld op sy ervaring staatmaak om die knoop deur te hak.”

Alcaraz verwag dat Djokovic met sy gewone truuks vorendag sal kom: Hy sal met onverbiddelike spel sy teenstander onder druk  plaas.

“Ek sal doodeenvoudig net daarvoor gereed moet wees.”

In die ander halfeindstryd meet Jannik Sinner kragte met Daniil Medvedev.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Daniil Medvedev met 6-4 en 6-4

Alexander Zverev klop Andrey Rublev met 6-4 en 6-4

Halfeindstryd-bepalings:

Jannik Sinner teen Daniil Medvedev

Novak Djokovic teen Carlos Alcaraz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.