Dis Swiatek teen Jabeur in NY-finaal

Iga Swiatek het na die eindstryd van die Amerikaanse Ope deurgedring. Sy speel môre teen Tunisië se Ons Jabeur. Foto: Twitter.

Iga Swiatek, die wêreld se voorste vrouespeler, moes haar storie ken om vir die eindstryd van die Amerikaanse Ope in New York te kwalifiseer.

Die Poolse ster het aanvanklik teen Aryna Sabalenka gesukkel, maar sy het uiteindelik die kragmeting met 3-6, 6-1 en 6-4 gewen om haar plek in die eindstryd teen Ons Jabeur te bespreek.

“Daar was beslis ʼn groot verskil tussen die eerste stel en die laaste twee. Aryna het dinge vir my baie moeilik gemaak en ek is bly dat ek met meer energie in die tweede en derde stel kon speel,” het Swiatek gesê.

Die 21-jarige speler kon vóór vanjaar se toernooi nog nooit eens na die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope deurdring nie, maar wanneer sy wel in ʼn eindstryd speel, is sy geneig om die silwerware omhoog te hou.

In haar twee vorige Grand Slam-eindstryde (al twee kere in Frankryk) het sy met die louere weggestap.

Tog sal Jabeur beslis nie kanonvoer in môre se eindstryd wees nie.

Die Tunisiër het verspotmaklik met Caroline Garcia in die ander halfeindstryd afgereken; die eindtelling was 6-1 en 6-3 in haar guns.

“Jabeur het ʼn baie goeie aanvoeling vir die spel terwyl sy ook met unieke houe vorendag kom. Sy is ʼn taai teenstander,” het Swiatek gesê.

Die twee spelers het al vier keer teen mekaar gespeel en elkeen het twee wedstryde gewen. In hul mees onlangse ontmoeting het Swiatek egter die septer geswaai toe sy Jabeur met 6-2 en 6-2 in die eindstryd van die Italiaanse Ope getroef het.

In die mansafdeling speel Casper Ruud en Karen Khachanov in vandag se halfeindstryd, terwyl Carlos Alcaraz en Frances Tiafoe rakette in môre se uitklopwedstryd sal kruis.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.