Dis Zverev teen Rublev in eindstryd

Alexander Zverev van Duitsland (21 Augustus 2021) (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

Die Duitser Alexander Zverev is die gunsteling om Sondagaand die laaste voorbereidingstoernooi vir die Amerikaanse Ope te wen. Hy speel teen die vierde gekeurde Andrey Rublev teen wie hy al vier hul vorige skermutselings gewen het.

Dit is nie die eindstryd wat die beroepswedders verwag het vir die toernooi nie want die twee topgekeurdes het in die halfeindronde gesneuwel. Zverev het die tweede gekeurde Stefanos Tsitsipas 6-4, 3-6 en 7-6 (7/4) geklop.

Die Rus Rublev het op sy beurt die topgekeurde Daniil Medvedev 2-6, 6-3 en 6-3 uitgeknikker. Rublev kon in sy vier vorige wedstryde teen Medvedev nie eers ʼn stel wen nie.

Medvedev moes in ʼn stadium behandeling aan sy linkerhand kry nadat hy ʼn kamera getref het. Hy moes ook behandeling vir sy regtervoorarm en regter dyspier kry tydens ʼn wedstryd wat in versengende hitte gespeel is.

Zverev moes ook die baan in ʼn stadium verlaat om te gaan opgooi. Hy het in die tweede stel maagprobleme ontwikkel en ʼn dokter het in die derde stel vir hom tablette gegee.

Daarna het die Olimpiese gouemedaljewenner se spel vlam gevat.

Zverev se bloed het gekook aan die einde van die eerste stel toe Tsitsipas oudergewoonte van die baan is met sy hele tennissak om waarskynlik nuwe klere aan te trek. Hy was vir agt minute van die baan af en Zverev het by die skeidsregter gekla dat Tsitsipas die onderbreking kan gebruik om afgerig te word.

Tsitsipas wou aan die einde van die tweede stel weer dieselfde doen, maar die skeidsregter het hom ingelig dat hy sy een toegelate blaaskans klaar gebruik het.

In die vroue-afdeling het die eerste gekeurde Australiër Ashleigh Barty haar sesde eindstryd van die seisoen bereik deur Angelique Kerber met 6-2 en 7-5 te klop. Barty is nou al 82 weke lank die wêreld se voorste vrouespeler.

Sy kom in vanaand se eindstryd te staan teen die ongekeurde Jil Teichmann van Switserland. Sy het die vyfde gekeurde Karolina Pliskova 6-2 en 6-4 uitgeskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.