‘Dit beteken ongelooflik baie vir my’

Ine-Marí Venter in aksie teen Wallis. (Foto: Twitter/Carel Stander/Netball SA)

Ine-Marí Venter het Vrydagaand soos ʼn wafferse ballerina in die doelsirkel teen ʼn moedige Walliese netbalspan rondgedans.

Die 28-jarige speler was die akkuraatheid self onder die doelnet en sy het toegesien dat die Suid-Afrikaners die telbord in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad aan die gang gehou het.

Haar uithalervertoning in die Protea-oorwinning van 61 – 50 beteken dat sy welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys is.

Norma Plummer het na afloop van die kragmeting die doelspeler se lof besing.

“Ek is trots op die wyse waarop ons gespeel het. Ek sal ʼn oorwinning enige tyd verwelkom, selfs al het ek gedink dat ons beter kon gespeel het. Die spelers het hul beste gelewer en ek dink Ine verdien beslis haar toekenning,” het die Protea-afrigter gesê.

Dit was Venter, wat haar klubnetbal vir die Saracens Mavericks in Engeland speel, se eerste wedstryd in ʼn Wêreldbeker-toernooi.

“Dit beteken ongelooflik baie vir my en ek was in trane terwyl ons die volkslied gesing het; juis omdat ek die vorige Wêreldbeker-toernooi met ʼn besering misgeloop het. Dit was baie spesiaal om hierdie oomblik in my land te geniet,” het Venter gesê.

Sy het in ʼn vorige onderhoud met Maroela Media erken dat daar inderdaad Wêreldbeker-drome vir die Proteas in Tafelberg se skadu lê.

“Dit is inderdaad ʼn groot taak wat op die spelers en afrigters wag – daar is al baie oor ons tuisbaanvoordeel en moontlike podiumkanse in die media gegons. Tog is dit iets waarna ons almal uitsien; ons wil bitter graag goed doen.

As ʼn span is ons goed genoeg om ons stempel op die Wêreldbeker-toernooi af te druk. Ons beskik oor die spelers, afrigters, mediese groep en ondersteuners. Dit gaan beslis nie maklik wees nie, maar dit is ʼn uitdaging wat ons opgewonde maak.”

Die Proteas speel vanmiddag om 16:00 teen Sri Lanka.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.