Djokovic jaag nog rekords in Londen

Novak Djokovic met die trofee vir die speler wat jaar as no.1 op die wêreldranglys afgesluit het. Foto: Twitter.

Novak Djokovic beleef nie die beste jaar nie: Hy het positief vir Covid-19 tydens sy rampspoedige Adria-toer getoets, hy is in die Amerikaanse Ope gediskwalifiseer ná sy lynregter-blaps, terwyl Rafael Nadal die vloer met hom in die eindstryd van die Franse Ope gevee het.

Maar die 33-jarige Serwiër het gister in Londen steeds ’n trofee ontvang. Hy het vir die sesde keer in sy loopbaan die tennisjaar as die no. 1-speler afgesluit om in die proses Pete Sampras se rekord te ewenaar.

Op die vooraand van die ATP Finals-toernooi in die Britse hoofstad spog hy met ’n wenrekord van 39 – 3 in 2020.

“Ek is natuurlik baie trots op die prestasie, maar ek het ook gemengde gevoelens; juis oor wat tans in die wêreld aangaan. Hoewel ek een van die grootste doelwitte in sport bereik het, weet ek dat baie mense tans swaar kry,” het Djokovic gesê.

Hy is saam met Daniil Medvedev, Alexander Zverev en Diego Schwartzmann in ’n groep vir hierdie week se Finals-toernooi ingedeel. En oudergewoonte wink daar weer ’n paar rekords vir Djokovic.

Indien hy met louere wegstap, sal hy Roger Federer se rekord van ses titels ewenaar, terwyl hy ook die Switserse tennislegende se rekord van 310 weke as die wêreld se voorste speler in sy visier het.

Rafael Nadal in aksie teen Andrey Rublev. Foto: Twitter.

Djokovic begin juis vandag sy veldtog teen Diego Schwartzmann – die Argentyn wat hy in die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome geklop het.

In gister se aksie het gewilde Rafael Nadal sy veldtog op ’n wennoot afgeskop toe hy Rusland se Andrey Rublev met 6-3 en 6-4 getroef het, terwyl Dominic Thiem ook vir Stefanos Tsitsipas geklop het.

Die eindtelling was 7-6, 4-6 en 6-3 in die Oostenryker se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.