Djokovic onoorwonne ná 10 wedstryde in 2021

Novak Djokovic. Foto: Valery Hache/AFP.

Of jy nou van Novak Djokovic hou of nie; die man weet hoe om tenniswedstryde te wen.

Die wêreld se voorste speler het gister in Monaco die jong Italiaanse sensasie Jannik Sinner met 6-4 en 6-2 in Monte Carlo getroef.

Dit was die Serwiese ster se eerste wedstryd sedert hy in Februarie sy negende Australiese Ope-titel in Melbourne verower het.

“Dit voel wonderlik om terug te wees en dit is lekker om in Monaco te speel,” het Djokovic gesê.

Die 33-jarige speler bly deesdae in dié Europese land en hy gebruik sommer die toernooi se wedstrydbane om aan sy spel tydens oefensessies te slyp.

“Dit was ’n goeie uitdaging sommer so met die intrapslag. Jannik het in die Miami-eindstryd gespeel en ek kon gelukkig met die regte houe op die regte tyd vorendag kom.”

Volgens die amptelike ATP-webwerf was die Sinner-oorwinning Djokovic se tiende agtereenvolgende oorwinning van die jaar. Dit is die sesde keer in sy loopbaan dat hy die eerste tien wedstryde van die jaarlikse ATP-toer gewen het.

En volgens Alexander Zverev gaan die Djokovic-trein nie binnekort tot stilstand gebring word nie.

“Hy is steeds honger vir sukses en vasbeslote om nog baie rekords agter sy naam te skryf. Ek dink nie hy gaan ophou totdat hy almal verbeter het nie,” het die jong Duitser gesê.

  • Djokovic se onoorwonne lopies:

2011: 41 agtereenvolgende wedstryde gewen

2012: tien agtereenvolgende wedstryde gewen

2013: 17 agtereenvolgende wedstryde gewen

2016: 14 agtereenvolgende wedstryde gewen

2020: 26 agtereenvolgende wedstryde gewen

2021: sover reeds tien wedstryde agtereenvolgens gewen

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.