Driekuns vir Toyota by berugte Safari Rally Kenia

Sébastien Ogier en navigator Vincent Landais (Foto: Jaanus Ree/Red Bull)

Die berugte Safari Rally Kenia, bekend as een van die moeilikste byeenkomste in motorsport, is die enigste ren in die Wêreldtydrenkampioenskap wat in Afrika plaasvind.

Die 70ste uitgawe van die Safari Rally, wat in 2021 ná ʼn afwesigheid van 19 jaar weer afgeskop het, het die afgelope naweek plaasgevind.

Renjaers en navigators is vanjaar tot die uiterste getoets tydens 19 uitmergelende skofte.

Takamoto Katsuta en navigator Aaron Johnston was in die inleidende skof reeds in ʼn verskriklike ongeluk betrokke maar het die groen lig gekry om voort te gaan.

(Foto: Jaanus Ree/Red Bull)

Toyota het ʼn indrukwekkende prestasie bereik tydens vanjaar se Safari Rally Kenia. Die eerste vier posisies is, vir ʼn derde keer, almal deur Toyota opgeraap – dié keer met sy WRT GR Yaris Rally1 Hibried-renmotors. Sébastien Ogier en navigator Vincent Landais was eerste met al 19 skofte klaar in ʼn algehele tyd van 3:30:42.5.

Kalle Rovanperä en navigator Jonne Halttunen was ʼn skamele 6,7 sekondes agter hulle oor die eindstreep. Elfyn Evans en Scott Martin was in die derde plek en Katsuta en Johnston vierde.

Dani Sordo en navigator Cándido Carrera van Spanje was vyfde in hul Hyundai i20 N Rally1 Hibried – 5:05.4 agter Ogier.

Ott Tänak en navigator Martin Järveoja was vyfde, 9:14.4 agter die wenner, in hul Ford Puma Rally1 Hibried-renmotor.

Thierry Neuville en sy navigator is egter gediskwalifiseer deur die organiseerders nadat dit aan die lig gekom het dat hulle glo mense vooruit gestuur het om die bane vir hulle te verken en ekstra inligting te gee oor waar om groot klippe te vermy, benewens wat in die standaardnotas is wat elke mededinger kry.

Die volgende tydren vind van 20 tot 23 Julie in Estland plaas.

Die toptien in die kampioenskap lyk tans só:

RenjaerNavigatorSpanPunte
K. RovanperäJ. HalttunenToyota140
E. EvansS. MartinToyota99
S. OgierV. LandaisToyota98
O. TänakM. JärveojaFord98
T. NeuvilleM. WydaegheHyundai93
E. LappiJ. FermHyundai69
D. SordoC. CarreraHyundai46
T. KatsutaA. JohnstonToyota35
P. LoubetN. GilsoulFord20
C. Breen (oorlede)  19

(Foto: Jaanus Ree/Red Bull)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.