Ecclestone sê BLM gebruik Hamilton net

Bernie Ecclestone en Lewis Hamilton. Foto: Mark Thompson/Getty Images/AFP

In ’n onderhoud met The Telegraph het die voormalige F1-baas, Bernie Ecclestone, Lewis Hamilton gewaarsku dat die Black Lives Matter-beweging hom vir hul eie gewin misbruik.

Die Mercedes-renjaer is motorsport se grootste BLM-kampvegter en hy het vroeër vanjaar gesê dat hy sal voortgaan om vir gelykheid in sport te baklei.

“Black Lives Matter. Verlede jaar het sommige van ons die knie ter ondersteuning van gelykheid gebuig en ek is baie trots daarop,” het Hamilton geskryf.

Tog meen Ecclestone dat Hamilton versigtig moet wees.

“Ek het al vir sy pa gesê dat Lewis mooi moet dink. Hy word deur mense misbruik wat BLM ondersteun en hulle maak lekker geld daardeur. Terselfdertyd weet niemand waarheen die einste geld gaan nie,” het Ecclestone gesê.

Die 90-jarige – wat verlede jaar weer pa geword het – is al vantevore deur Hamilton gekritiseer omdat hy in ’n onderhoud aangevoer het dat swart mense soms groter rassiste as wit mense is.

“Dit is hartseer en teleurstellend om sulke kommentaar te lees. Maar dit is presies wat fout is; onkundige kommentaar wat net wys hoe lank die pad is wat ons nog as samelewing moet stap voordat ware gelykheid in werking kan tree,” het Hamilton daarop gesê.

Nou het Ecclestone teruggekap en gesê dat F1 sy politieke baadjie moet uittrek.

“As ek nog aan die stuur van sake was, sou daar beslis nie ’n gekniebuigery voor wedrenne gewees het nie.”

Hoewel sommige renjaers verlede jaar saam met Hamilton die knie gebuig het, het baie verkies om staande te bly.

Die Ferrari-ster Charles Leclerc het verlede jaar ook verkies om nie die knie te buig nie.

“Ek wil egter nie die knie buig nie omdat baie van die wêreldwye protesoptogte met geweld gepaardgaan. Ek keur dit nie goed nie. Verder hou ek ook nie daarvan dat politici hierdie beweging vir hul eie gewin gebruik nie,” het Leclerc gesê.

Maar die wêreldkampioen het ook intussen gevra wat volgende sal gebeur omdat ongelykheid, volgens hom, steeds die septer in die sport en in die wêreld swaai.

Hy het aangevoer dat die wêreld steeds na gelykheid vir alle mense moet streef en dat almal hulself aanspreeklik daarvoor moet hou.

“So lank as wat daar suurstof in my longe is, sal ek aanhou om vir verandering te baklei. Ek sal myself beywer om geleenthede vir swart kinders te skep in vakgebiede soos die wetenskap en ingenieurswese.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bertus ·

F1 se naam het net verander na LH, dit bestaan skynbaar nog VaalDonkie.

MakersMark ·

Baie waar. Eintlik gaan BLM glad nie oor die “racial justice” wat hulle so oor skree nie. Watter racial justice ? Het Hamilton dit nodig, of het die mense wat onder slawerny van hul eie ras in Afrika vergaan dit nodig ? BLM het niks met gelykheid uit te waai nie maar eerder met die vernietiging van westerse stelsels en waardes, deur hul maxistiese idees. Die huidige westerse stelsel het deur die eeue meer mense opleiding gegee, uit armoede albei fisies en geestelik gered as enige ander sisteem. Uitkoms van BLM is om die wereld te plaas in ‘n marxistiese, kommunistiese sisteem waar daar baie groter rykdom gaping gaan wees tussen die swart elite en die gespuis. Waarom anders is die swart elite die wat in die voorste ry staan en “blm” skree ?

koos10 ·

Lewis, gebruik eerder jou miljoene dollars as die lug in jou longe om teen ongelykheid te baklei. Weet nie baie mooi dat nie net swart mense ongelyk behandel word nie, dit gebeur hier in SA ook met wit mense!

Stefaan ·

Dankie aan hamilton. Hy het my genees van F1. Plaas dat hy terug keer engeland toe en sy belasting betaal.

Daizee ·

‘n Mens láát jou ôk gebruik!! Elkeen van ons het ‘n keuse!!! Én dis een ding wat wonderlik is van 90 wees — jy kan sê wat jy wil en absoluut vere voel vir al die verontwaardigde kritiek!!! :-) :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.