Een en twee vir Red Bull in Bahrein

Red Bull het vandag die septer in Bahrein geswaai. Foto: Twitter.

Max Verstappen het vandag eerstens ʼn lekker voorsprong opgebou, waarna hy doodeenvoudig net geweier het om daarvan afstand te doen.

Die geruite vlag is vir die eerste keer vir die jong Nederlandse renjaer in Bahrein geswaai, terwyl sy spanmaat Sergio Perez in die tweede plek klaargemaak het. Dit is duidelik dat die Red Bull-opvolgverhaal dalk net so ’n groot sukses soos verlede jaar se topverkoper kan wees.

“Dit was ʼn uitstekende aanloop tot die seisoen – presies wat ons nodig gehad het,” het ʼn tevrede Verstappen oor sy spanradio laat weet.

Dan was Fernando Alonso ʼn derduidwel agter die stuur van sy Aston Martin en hy het die horlosie goed teruggedraai om die wedren in die derde plek af te sluit.

Die 41-jarige Spanjaard het weer eens nie geskroom om swaarde met die ander renjaers te kruis nie en sy tweestryde met die Mercedes-renjaers en Carlos Sainz in sy Ferrari het beslis motorsportliefhebbers laat regop sit.

“Hierdie is ʼn lieflike motor om te bestuur,” het hy laat in die wedren laat hoor. Dit is die eerste keer sedert 2021 in Katar dat hy weer op die podium staan.

Vir Ferrari was dinge weer eens minder rooskleurig toe Charles Leclerc in die 42ste ronde die aftog weens enjinprobleme moes blaas.

“Ons het sommer vanuit die staanspoor geweet dat ons op die agtervoet teen Red Bull sou wees. Hulle is tans strate voor die ander spanne,” het Leclerc ná die afloop van die wedren gesê.

Mercedes het ook gesukkel om by Red Bull en selfs Aston Martin kers vas te hou en Lewis Hamilton moes met ʼn vyfde plek tevrede wees, terwyl George Russell die wedren in die agtste plek voltooi het.

“Ek het my bes probeer en ek is eintlik heel tevrede met die wedren. Red Bull is tans ongelooflik vinnig, maar ek het my tweestryd met Fernando baie geniet,” het Hamilton gesê.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. Ferando Alonso (Aston Martin)
  4. Carlos Sainz (Ferrari)
  5. Lewis Hamilton (Mercedes)
  6. Lance Stroll (Aston Martin)
  7. George Russell (Mercedes)
  8. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  9. Pierre Gasly (Alpine)
  10. Alex Albon (Williams)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 25 punte
  2. Sergio Perez: 18 punte
  3. Fernando Alonso: 15 punte
  4. Carlos Sainz: 12 punte
  5. Lewis Hamilton: 10 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 43 punte
  2. Aston Martin: 23 punte
  3. Mercedes: 16 punte
  4. Ferrari: 12 punte
  5. Alfa Romeo: 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jou gewete ·

As Ferrari nou net ook bykom en Stroll herstel van sy besering dan kan dit n goeie seisoen raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.