Elkeen is uniek – Simoné, ’n goue vis in die water

Simoné Maré is die trotse houer van 12 Suid-Afrikaanse swemrekords. (Foto: Verskaf.)

Deur Yolanda Taylor

Die feit dat Simoné Maré liggaamlik gestremd is, het haar allermins gekeer om die trotse houer van twaalf Suid-Afrikaanse swemrekords te wees. Sy mag dalk daagliks deur fisieke uitdagings in die oë gestaar word, maar dié pragtige jong vrou koester groot drome vir haar toekoms.

Waterkind

Simoné, ’n boorling van Richardsbaai, is sedert haar geboorte verlam nadat die naelstring om haar nek gedraai was. Die gevolg was perinatale hipoksie, oftewel ’n suurstoftekort wat meestal langtermynskade aanrig. In Simoné se geval het haar traumatiese geboorte gelei tot serebrale palsie (afwyking in beweging, spiertonus of postuur), nek- en laerugspasmas en migraine. Ondanks haar mediese toestand, keer niks haar ooit om steeds aan te hou om haar beste te gee nie.

Haar ma, Cusilia Swart, vertel dat hulle gesien het dat Simoné al van babatyd ’n ongelooflike klein dogtertjie was.

“Op agt maande kon sy steeds nie sit nie en ons het besluit om haar te neem vir waterterapie. Sy was maar tien maande oud toe ons haar met swemlesse laat begin het in die hoop dat dit haar toestand en spiertonus sou verbeter. Dus kon sy letterlik swem voordat sy kon sit, staan of loop! Ons het besef hierdie kind van ons is ’n “waterkind”. Sy vertel dat die pad tot nou toe allesbehalwe maklik was.

“Haar hart het tydens haar geboorte twee maal gaan staan en sy was ’n paar maal vir lang tye gehospitaliseer en as gevolg daarvan het sy ook epilepsie ontwikkel.”

Simoné het op 4-jarige ouderdom met ’n loopraam leer loop. Sy het verlede jaar deur die Dynamic Kids-tuisonderrigprogram gematrikuleer. Die skool het altyd haar gesondheidsprobleme, streng oefenprogram en swemaangeleenthede in ag geneem om seker te maak dat Simoné die geleentheid het om die beste opleiding te ontvang.

Simoné het op agt maande reeds gegaan vir waterterapie. Dit beteken sy kon swem voordat sy gesit of geloop het. (Foto: Verskaf.)

Harde werk

Die 19-jarige Simoné sal lewenslank fisioterapie, biokinetiese behandeling ontvang en swem om haar toestand te ondersteun. Sy verloor by tye krag in haar bene wat veroorsaak dat sy val, maar elke enkele keer staan sy net weer op en gaan aan. Die afgelope sestien jaar ondergaan sy weekliks fisioterapie en biokinetiese behandelings en swem ook ses dae per week. Sy oefen 16 uur per dag om fiks te bly om ten alle tye voorbereid te wees vir groot swemkampioenskappe.

Alhoewel sy as baba swemlesse ontvang het, het sy 2006 eers kompeterend aan swem begin deelneem. Teen 2008 het haar deelname al sterker geword en het sy met elke gala meer gedetermineerd geword om ’n sukses te maak van ’n swemloopbaan en om dit haar lewensroetine te maak. Haar afrigter vanaf 2006 tot 2019, Francois Boshof, het ’n enorme bydrae gelewer tot haar swemtegnieke en sy is hom innig dankbaar daarvoor. “She has improved remarkably in a very short period of time. Sy is ongelooflik talentvol en het ’n baie sterk veggees,” het Boshoff gesê.

Simoné ontvang sedert 2019 swemafrigting deur Linda Joubert by die Stingray-swemklub in Richardsbaai. Hy staan bankvas agter haar en ondersteun haar drome ten volle. Simoné het vinnig die suksesleer in swem begin klim, wat niks minder as ’n wonderwerk is vanweë haar gebrek nie.

Ongeag van die lang ure waarin sy oefen, fisio- en biokinetika-behandelings ontvang, is sy ’n voltydse student aan die Eta College for Sports waar sy National Coaching Science of Sport studeer. Tesame met Joubert help Simoné ook met die afrigting van jonger swemmers en is ’n tydhouer.

Swem, Simoné, swem!

Simoné hou twaalf Suid-Afrikaanse rekords op die Suid-Afrikaanse ranglys, het 20 Suid-Afrikaanse medaljes met ’n totaal van 147 medaljes waarvan ongeveer 80% goud is.

In 2019 is sy benoem vir die KZN-sporttoekenning vir Sportvrou van die Jaar asook Sport Persoonlikheid van die Jaar.

Simone neem vanaf 2015 deel aan die jaarlikse SA Kampioenskappe (Nationals). In 2016 het sy die Rio Olimpiese Spele bygewoon. Chad le Clos is haar rolmodel en spoor haar aan om haarself nog harder te druk in die lewe om te bereik wat sy graag wil.

Sy het ook deelgeneem aan een van Zululand se glansgalas, die uShaka Kampioenskappe, waar sy teen normale swemmers deelgeneem het in vryslag, vlinderslag en borsslag. Hier het sy twee silwer en twee brons medaljes gewen. In Januarie het sy deelgeneem aan die provinsiale kampioenskappe in Durban, waar sy al vyf haar nommers gewen het en vyf goue medaljes huis toe geneem het.

Sy het gedurende Maart vanjaar deelgeneem aan die SA Nationals for Physical Disability in Port Elizabeth, met deelname aan sewe nommers. Sy hoop om vanjaar aan die Paralimpiese Spele te kan deelneem aan, onder meer, vryslag, rugslag en vlinderslag.

Afrigter Sibane Makhanya sê Simoné is een van die topswemmers in die land in haar kategorie. Hy beskryf haar as ’n jong vrou met ’n uitstekende wedywerende temperament wat goed reageer op druk.

“Dit is ’n voorreg om met haar te werk. Sy glimlag altyd en druk haarself tydens oefensessies. Sy het baie drome en is gereed om dit na te jaag en ’n realiteit te maak. Ek glo sy sal eendag ’n Olimpiese swemmer wees. Behalwe haar eie doelwitte, beywer sy haar om in die gemeenskap uit te help deur kinders met liggaamlike gestremdhede te help. Dis ongelooflik dat sy ’n afrigter wil word. Ons voel geëerd om haar by ons swemskool te hê.”

Mense wat Simoné beskryf haar as talentvol en iemand met ‘n sterk veggees. (Foto: Verskaf.)

Toekomsvisie

Sy studeer om ’n waterterapeut te word met die hooffokus op liggaamlik gestremde kinders.

“Ek glo dat in die glorie van God is enigiets in die lewe ’n moontlikheid. Alle lewe maak saak, ongeag van jou velkleur of gebrek. My droom is om eendag my eie swemskool vir kinders met liggaamlike gebreke te open. Sodoende is dit ’n geleentheid waar ek ander mense kan help.”

Sy word beskryf as buitengewoon talentvol met ’n ongelooflike veggees. Cusilia sê, “Sy het ’n sagte hart en help waar sy kan. Ondanks haar gebrek, het sy verlede jaar matriek geslaag en niks laat haar onderkry nie. Sy kyk op na haar ouer suster, Annemarie Maré (21) en vra altyd raad by haar.”

Annemarie studeer aan die Universiteit Stellenbosch en was nog altyd haar suster se steunpilaar. Veral toe hulle haar op laerskool geboelie het, was haar suster altyd daar om te keer. Sy was vanaf graad 4 in 2007 in ’n privaat skool.

“Ons is ’n hegte gesin en ek doen moeite om nooit ’n gala of kampioenskap te mis nie. Ek en Simoné se pa, Bulletjie Maré, is geskei en hy woon in Mosambiek, maar hy ondersteun haar ten volle. Hy en Simoné se stiefma, Belinda, volg noukeurig haar loopbaan. Simoné en haar stiefpa, JJ Swart, het ’n goeie verhouding en doen graag aktiwiteite saam met haar.”

In haar vrye tyd is sy besig met opleiding vir diepseeredding by Richardsbaai, Stasie 19.

“Ek is mal oor diepseevisvang en kan nie wag om op ’n boot te kom nie. Die natuur en buitelewe beteken alles vir my. Ek is ook mal oor kook en probeer gereeld nuwe resepte uit.”

Elkeen is uniek

Simoné het ’n uitdagende ses maande in 2019 beleef waartydens sy twee knieoperasies tegelykertyd gehad het. Sy moes soveel harder daarna werk, maar hulle sê nie verniet dat geduld ’n aanwins is nie.

“Vir my as ’n S8-swemmer met ’n gestremdheid bied dit dikwels ’n interessante blik op mense. My unieke uitdagings het geleenthede na my kant gebring en stel my in staat om te kan uitreik na soveel mense in nood. Ek het altyd baie maklik gehuil. Maar ná alles wat in my lewe gebeur het, ook hoe ek op skool geboelie is, dit alles het my net sterker gemaak.”

Simoné glo dat sukses en geluk in jouself lê. Deur aan jouself geluk en vreugde te beloof, bewapen jy jouself om ’n onoorwonne teen probleme te wees.

“Ons is almal uniek, ongeag van velkleur of enige gestremdheid en op elke moontlike manier.

“Elke oggend wanneer jy wakker word, is die keuse joune of jy geluk en vreugde wil kies of negatiwiteit en pyn. Om vryheid te kan ervaar wanneer jy foute maak en om keuses te kan maak.

“Vandag kies ek om die lewe te voel en te ervaar en nie my menslikheid te ontken nie, maar om dit te omarm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kerneels ·

Pragtige voorbeeld in hierdie onvolmaakte wêreld waarin ons leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.