Federer marsjeer voort op Wimbledon

Roger Federer. Foto: Ben Solomon/AFP.

Nadat hy in die eerste ronde teen Frankryk se Adrian Mannarino gesukkel het, was Roger Federer gister weer goed op dreef toe hy vir Richard Gasquet met 7-6, 6-1 en 6-4 geklop het.

Dit was die 39-jarige speler se 19de sege in 21 wedstryde teen die Fransman en hy sal nou teen Brittanje se Cameron Norrie in die derde ronde op Wimbledon te staan kom.

Tog was Federer weer eens nie op sy heel beste in die eerste stel teen Gasquet nie; ’n mens kon soms sien dat dit net sy tiende wedstryd van die die afgelope 18 maande was.

Maar hy het al agt keer vantevore in sy loopbaan met die louere op Wimbledon weggestap en hy weet presies hoe om op grasbane te wen.

“Ek ken vir Richard baie goed omdat ons al so baie teen mekaar gespeel het. Hy beskik oor ’n wonderlike rughandhou en toe hy met een van hulle laat waai, wou ek met iets soortgelyks vorendag kom. Hy het my regtig geïnspireer,” het Federer gesê.

Die Switerse legende het nou al 103 wedstryde op Wimbledon gewen en hoewel hy respek vir Norrie het, is die Brit bloot ’n hindernis in sy soeke na sy negende titel in Engeland.

“Cam is ’n goeie ou wat ’n paar sterk vertonings agter die blad het; ek is trots op hom. Maar genoeg heuning om die mond, hy moet uitgeskakel word en ek moet deurgaan,” het hy glimlaggend gesê.

Volgens Federer, wat al 20 Grand Slam-titels agter sy naam het, is dit nie noodwendig belangrik om jou beste tennis in die eerste twee rondes van ’n groot toernooi te speel nie. Die belangrikste is om net nie uitgeskakel te word nie.

“Vandag was ’n spesiale wedstryd – ek is in die derde ronde en in my skik met my spelpeil.”

O ja, hy is ook die oudste speler in 46 jaar om na die derde ronde van die toernooi te vorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Wat ‘n pragtige voorbeeld is die man tog vir die jonger geslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.