Federer nie meer onder voorste drie

Roger Federer. Foto: Ng Han Guan, AP

Vir die eerste keer in amper ’n jaar sal Roger Federer nie onder die topdrie tennisspelers ter wêreld tel nie.

Die 38-jarige Switserse superster se lastige regterkniebesering sal hom ook uit later vanjaar se Franse Ope op Roland-Garros hou. Hy het egter in Februarie ’n operasie ondergaan en is vol vertroue dat hy betyds vir Wimbledon sal herstel.

Federer se afwesigheid het die deur vir Oostenryk se Dominic Thiem oopgelos om ’n ranglyssprong of twee te maak.

Thiem het vroeër vanjaar met Gaël Monfils, Rafael Nadal en Alexander Zverev afgereken om vir die eindstryd van die Australiese Ope te kwalifiseer. Hy het egter in vyf stelle teen Serwië se Novak Djokovic vasgeval.

Sy derde plek beteken dat hy saam met spelers soos Andy Roddick, Stan Wawrinka, Grigor Dimitrov en Milos Raonic onder die enigste ander tennissterre sedert Julie 2007 tel om die driemanskap van Federer, Nadal en Djokovic te onttroon.

Federer het egter beloof dat hy terug sal wees.

“Hoewel ek ongelukkig die toernooie in Dubai en Miami, sowel as die Indian Wells en die Franse Ope sal misloop, is ek dankbaar vir almal se ondersteuning en kan nie wag om weer te speel nie. Sien julle op die grasbane!” het hy getwiet.

  • Die top-10:
  1. Novak Djokovic (10 220 punte)
  2. Rafael Nadal (9 850 punte)
  3. Dominic Thiem (7 045 punte)
  4. Roger Federer (6 630 punte)
  5. Daniil Medvedev (5 890 punte)
  6. Stefanos Tsitsipas (4 745 punte)
  7. Alexander Zverev (3 630 punte)
  8. Matteo Berrettini (2 860 punte)
  9. Gaël Monfils (2 860 punte)
  10. David Goffin (2 555 punte)
  • Suid-Afrika se Lloyd Harris is 98ste op die ranglys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.