Fikse rekordbreker se stryd met Covid-19

Morné Basson het al verskeie fiksheidsuitdagings met sukses aangepak. Foto: Verskaf.

Morné Basson is nie iemand wat vir ’n uitdaging skrik nie.

Die Suid-Afrikaner het al ’n Comrades-marathon of twee op ’n trapmeul kafgedraf en ’n wêreldrekord verbeter deur 72 agtereenvolgende halfmarathons (óók op ’n trapmeul) suksesvol te voltooi. Meer onlangs het hy 5 184 km op sy oefenfiets getrap – alles ten bate van  The Character Company se #Bthat1-inisiatief.

Maar niks kon hom egter voorberei vir die stryd wat begin het toe hy op 16 Junie positief vir Covid-19 getoets het nie.

Volgens Basson was die aanvanklike simptome nie te erg nie, maar op die agtste dag het dinge skielik en onverwags agteruit gegaan.

“Ek het vroeg die oggend baie erg begin hoes en ek het my bewussyn op my badkamervloer verloor. Ek vermoed dat ek vir ’n halfuur daar gelê het en genadiglik kon ek later die energie kry om na die dokter te ry.”

Basson het 72 halfmarathons in 72 dae ten bate van motorneuronsiekte-lyers voltooi. Foto: Facebook.

Wanneer Basson op sy fiksste is, klop sy hart teen ’n gemiddelde tempo van 48 slae per minuut. Nadat hy positief vir die virus getoets het, het dit na 96 slae per minuut opgeskiet en dit was meer as 130 wanneer hy net ’n bietjie in die huis rondbeweeg het.

Hy vertel dat hy nooit gedink het dat ’n gesonde en fikse man so vinnig siek kan word nie.

“Ek voel baie sterk oor die volgende: As dit nie vir die Here se genade was nie, was ek nie vandag hier nie.  My fiksheid en gesonde lewenstyl het waarskynlik beteken dat my liggaam die uitdaging beter kon hanteer, maar dit is geen waarborg dat dinge nie verkeerd kan gaan nie.”

Hoewel sy harttempo steeds nie te waffers is nie, voel hy vir die eerste keer beter.

“Ek het gister selfs ’n ent gaan stap, maar dit het na die tyd gevoel asof ek die Comrades-marathon aangepak het. Ek het deurgaans my smaak- en reuksintuig behou; slegs my longe is kwaai aangetas.

“Ons sê so maklik vir ander dat ons presies weet hoe daardie persoon voel, want ons is self ook deur ’n soortgelyke situasie. Tog weet niemand eintlik hoe iemand anders voel nie – almal se omstandighede verskil en ons ervaar ook dinge op verskillende maniere.

Foto: Verskaf.

“Juis daarom is dit belangrik om ander by te staan en te help waar jy kan, terwyl die krag van gebed ook nooit onderskat moet word nie.

“Enigiemand kan siek word; Covid is ’n werklikheid, dit is hier. En hoewel almal nie dieselfde reageer nie, het ons ’n verantwoordelikheid om onsself en ander te beskerm. Nie almal is net vir tien dae siek nie. Maar God is groter as Covid-19.”

Hoewel die virus hom baie siek gemaak het, het dit nie sy vuur vir liefdadigheidswerk geblus nie. Hy sal nie iets doen om sy gesondheid te benadeel nie, maar binne die volgende ses maande weer iets groot aanpak.

Conquer your Mountain is ’n projek wat ek in September op Tafelberg sou aanpak, maar ek gaan dit vir eers ’n rukkie uitstel. Baie mense sukkel met depressie en dit is waarom ek hierdie uitdaging wil doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens ·

Sterkte Morne, jy en ek ry in dieselfde bootjie. Ekself herstel van covid. 22 Dae in hospitaal gewees met asemnood. Ek het 15 Comrades’e, n volle Ysterman en verskeie 100km fietsrenne voltooi. Die dr wat my behandel het, het gesê my fiksheid het my deurgedra met die virus aanval. Maar ek weet dit is net genade van bo. Hierdie covid stryd is taaier as n Comrades.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.