Franse Ope met ’n week uitgestel

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Volgens organiseerders van die Franse Ope sal die gewilde tennistoernooi weens Covid-19-regulasies met ’n week uitgestel word.

Die toernooi sal nou op 30 Mei begin, met die manseindstryd wat op 13 Junie beslis word.

Frankryk gaan tans gebuk onder ’n hernieude vlaag Covid-19-gevalle en president Emmanuel Macron het strenger regulasies ingestel. Dit is juis die Franse tennisbeheerliggaam se hoop dat die regulasies teen daardie tyd verslap is.

“Hopelik sal dit die gesondheidsituasie meer tyd gee om te verbeter en vir ons die geleentheid bied om toeskouers by die wedstryde te verwelkom,” het Giles Moretton, president van die Franse tennisbeheerliggaam (FFT), gesê.

Volgens AFP sal die Fransmanne se besluit nie ’n invloed op Wimbledon se beplande begindatum van 28 Junie hê nie.

Hoewel ’n speler soos Rafael Nadal waarskynlik nie veel deur veranderende bepalings gepla word nie, kan Roger Federer sy dagboek nader trek.

Die 39-jarige speler het juis vroeër gesê dat Wimbledon en die Olimpiese Spele sy hoofprioriteit is en die nuwe verwikkeling kan sy voorbereiding vir die grasbaantoernooi belemmer.

Tog sal dit lekker wees as Federer weer vir Nadal op Roland-Garros die stryd aansê; die Spanjaard het immers verlede jaar sy 13de titel op die baan ingeoes.

“Dit is vir my ’n reusevoorreg om Rafa met sy 20ste Grand Slam geluk te wens. Wat sy prestasie veral ongelooflik maak, is dat hy nou al 13 keer op Roland-Garros gewen het – een van die beste prestasies in sport,” het Federer ná Nadal se spogsege in die eindstryd teen Novak Djokovic gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.