Fransman trap nóg ’n stel teen Nadal af

Richard Gasquet (regs) het al 18 wedstryde teen Rafael Nadal verloor. Foto: Jamie Squire/Getty Images/AFP.

Arme Richard Gasquet.

Die 36-jarige Fransman spog met een van die beste rughandhoue in wêreldtennis, terwyl hy al die sewende plek op die ATP-ranglys beklee het.

Maar hy sukkel hom boeglam teen Rafael Nadal.

Die Spaanse tennisster het weer eens met Gasquet op die tennisbaan afgereken toe hy hom met 6-0, 6-1 en 7-5 in die Amerikaanse Ope geklop het.

Dit was sy 18de oorwinning op ’n streep teen die stomme Fransman, terwyl hy ook al 34 agtereenvolgende stelle gewen het.

In hul jongste tweestryd het Nadal die eerste nege potte gewen om ’n voorsprong van 6-0 en 3-0 op te bou. Toe Gasquet uiteindelik daarin kon slaag om ’n pot af te rokkel, het hy sy arms dankbaar in die lug gegooi.

“Dít was my beste wedstryd van die toernooi,” het Nadal ná afloop van die wedstryd gesê.

“Dit is my eerste oorwinning in skoon stelle en dit is ’n besliste verbetering op my eerste twee wedstryde. Die derde stel was egter ’n uitdaging omdat Richard die tempo verhoog het. Ek is egter baie tevrede met my spel.”

Die Spaanse wenner van 23 Grand Slam-titels speel volgende teen Frances Tiafoe.

Die Amerikaner, wat deur Wayne Ferreira afgerig word, het vir Diego Schwartzman met 7-6, 6-4 en 6-4 geklop.

Uitslae:

Jannik Sinner klop Brandon Nakashima met 3-6, 6-4, 6-1 en 6-2

Rafael Nadal klop Richard Gasquet met 6-0, 6-1 en 7-5

Marin Cilic klop Dan Evans met 7-6, 6-7, 6-2 en 7-5

Frances Tiafoe klop Diego Schwartzman met 7-6, 6-4 en 6-4

Carlos Alcaraz klop Jenson Brooksby met 6-3, 6-3 en 6-3

Andrey Rublev klop Denis Shapovalov met 6-4, 2-6, 6-7, 6-4 en 7-6

Cameron Norrie klop Holger Rune met 7-5, 6-4 en 6-1

Danielle Collins klop Alizé Cornet met 6-4 en 7-6

Iga Swiatek klop Lauren Davis met 6-3 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.