Fraser, Froning en Toomey maak geskiedenis

Mat Farser. Foto: Twitter

Mat Fraser is nou saam met Rich Froning die enigste CrossFit-atlete om die Spele vir vier agtereenvolgende jare te wen.

Maar waar Fraser voorheen vir die kompetisie weggehardloop het, moes hy vanjaar ’n kwaai aanslag van sy landgenoot, Noah Olsen, afweer.

Die 29-jarige was vir drie items nie onder die top-10 atlete nie, terwyl hy ook op die punteleer beboet is omdat van sy gewigte uit sy rugsak gedurende ’n drafitem geval het. Tog het hy op die laaste dag vir die ander deelnemers gewys waar Dawid die wortels gegrawe het en hy was uiteindelik eerste in ses items om die Spele met 35 punte te wen.

In die vroue-afdeling het Australië se Tia-Clair Toomey op ’n drafstap gewen. Die 26-jarige is ’n Olimpiese gewigoptelkampioen en sy het veral die swaargewigtekategorieë oorheers.

Tia-Clair Toomey. Foto: Twitter

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat sy die Spele wen en daar was 195 punte tussen haar en Noorweë se Kristin Holte.

Toomey is 10 keer onder die topvyf atlete geplaas.

In die spanafdeling het Rich Froning se Mayhem Freedom-span behoorlik amok gemaak. Nadat hulle – ietwat teen die verloop van spel – die Rogue-uitnodigingstoernooi verloor het, het hulle hulself waarskynlik half disnis geoefen om gereed te wees vir die Spele.

Froning, wat die individuele Spele vier keer agtereenvolgens gewen het, se span het die kompetisie met 198 punte gewen.

Dit is die vierde keer dat Mayhem (van Cookeville in die VSA) met die louere wegstap. Dit is dus ’n prestasie wat van Froning die enigste atleet in die geskiedenis van die sport maak om die spele vier keer as individuele atleet én as spanlid te wen.

Suid-Afrika se Jason Smith het 29ste klaargemaak, terwyl Michelle Merand 42ste was en Dina Swift 92ste.

Rich Froning. Foto: Twitter

Top-10 (Mans):

  1. Mat Fraser (Amerika) 984 punte
  2. Noah Olsen (Amerika) 949 punte
  3. Bjorgvin Karl Gudmundsson (Ysland) 888 punte
  4. Scott Panchik (Amerika) 795 punte
  5. James Newbury (Australië) 728 punte
  6. James Heppner (Amerika) 694 punte
  7. Matt McLeod (Australië) 671 punte
  8. Adrian Mundwiler (Switserland) 632 punte
  9. Saxon Panchik (Amerika) 587 punte
  10. Will Moorad (Amerika) 485 punte

Top-10 (Vroue):

  1. Tia-Clair Toomey (Australië) 1071 punte
  2. Kristin Holte (Noorweë) 876 punte
  3. Jamie Greene (Nieu-Seeland) 851 punte
  4. Katrin Davidsdottir (Ysland) 784 punte
  5. Karissa Pearce (Amerika) 714 punte
  6. Hayley Adams (Amerika) 711 punte
  7. Amanda Barnhard (Amerika) 706 punte
  8. Bethany Shadburne (Amerika) 659 punte
  9. Anna Fragkou (Griekeland) 640 punte
  10. Thuridur Helgadottir (Ysland) 611 punte

Spanne:

  1. CrossFit Mayhem Freedom (Amerika) 819 punte
  2. CrossFit Krypton (Amerika) 621 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

1071 punte aan 1ste vroue genade ver voor as 1 ste mans 984? Verstaan seker nie mooi ha,ha,ha….. kry sommer lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.