Goud wink vir blitsige Tatjana

Tatjana Schoenmaker klief deur die water. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Tatjana Schoenmaker, Suid-Afrika se groot hoop op ’n goue medalje by die Olimpiese Spele, het vir die 100 m-borsslagfinaal gekwalifiseer toe sy vroeg vanoggend (SA tyd) die laaste uitdunronde in ʼn tyd van 1:05:07 min gewen het.

Die 24-jarige Tukkies-swemmer het gister met haar eerste swemsessie in Tokio ook die Olimpiese rekord in dié item na ’n blitsige 1:04:82 min verbeter. Hoegenaamd nie ’n slegte vertoning vir iemand wat eintlik meer van die 200 m-borsslagitem hou nie.

In vandag se aksie het sy weer eens water in die oë van die VSA se Lily King geskop. Die Amerikaner en verdedigende Olimpiese kampioen het die afstand in 1:05:40 min voltooi.

“Die doel was om te sien hoe my lyf sal reageer om in die oggend te swem omdat ek effens moeg was. Die lekkerste ding was om by Lily te bly en ’n baan vir die eindronde te verseker,” het Schoenmaker gesê.

Haar afrigter, Rocco Meiring, het op die vooraand van die Spele nog gesê dat Schoenmaker die 100 m-item grotendeels sal gebruik om litte vir die 200 m los te maak. Hoewel sy swemmer se heldedade hom effens onkant betrap het, is hy baie trots op haar vertoning.

Hy het egter terselfdertyd gewaarsku dat enigiets in die eindronde kan gebeur – ’n medalje word immers nie in die uitdunrondes gewen nie.

“Ek is ongelooflik trots op Tatjana omdat sy so goed voorberei het en sy weet wat sy volgende moet doen: Sy maar al te bewus daarvan dat die ander swemmers haar môre sal teiken,” het Meiring gesê.

“Maar maak nie saak wat môre gebeur nie, in my oë was die 100 m-veldtog reeds ’n reusesukses. Elke keer wanneer Tatjana by ’n groot byeenkoms swem, is die doelwit om haar tye te verbeter. Sy het dit reeds gister vermag en vandag se tyd is haar tweede beste poging nóg in hierdie item.”

Die eindstryd is môre om 04:17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.