Haas se skilpadkar blus nie Schumi-vuur

Mick Schumacher. Foto: Giuseppe Cacace/AFP.

Mick Schumacher het weliswaar 16de in sy F1-buiging in Bahrein klaargemaak, maar hy is steeds opgewonde oor wat die toekoms inhou.

Ontleders beskryf die Haas VF-21 as die stadigste renmotor in F1; ’n kwessie wat waarskynlik sal sorg dat die opwindende 22-jarige renjaer nie sommer vanjaar al op die podium sal verskyn nie.

Iemand soos Bernie Ecclestone het al vantevore gesê dat Haas nie die beste span vir Schumacher is nie.

“Ek kry hom ’n bietjie jammer. Hy beskik oor goeie eienskappe wat ’n aanwins vir F1 is en hy het wonderlik in die F2-afdeling presteer, maar ek weet nie of hy veel by sy huidige span kan leer nie,” het die 90-jarige Ecclestone gesê.

Spanbaas Guenther Steiner is egter tevrede met Schumacher se poging.

“Hy het homself goed van sy taak gekwyt en ek dink dit was ’n goeie leerskool. Die span het trouens ook baie dinge wys geword en dit lyk asof ons wedrenstrategie werk,” het Steiner gesê.

Schumacher se motor het vroeg in die wedren ’n bietjie getol, maar hy het goed kop gehou om dinge weer op koers te kry.

“Ek sou sê dat ek 90% tevrede is met my poging; juis oor daardie fout wat ek gemaak het. Ek dink egter dat ek goeie ondervinding opgedoen het en hopelik kan ek dit in iets positief vir die volgende wedren omskep,” het hy gesê.

Tog kan ’n stadige Haas-motor ’n groot las van Schumacher se skouers haal: Niemand gaan verwag dat hy onder die top-deelnemers kan eindig nie. En as hy dit wel doen, sal dit ongetwyfeld sy te danke aan sy bestuursvernuf wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karlahari ·

Hy sal n Haas uit die hoed moet haal as hy wil hond haaraf maak.
Maar……..pa Schumi het ook nie met die beste kar begin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.