Halep verskyn voor sporthof

’n Glimlaggende Simona Halep buite die CAS-gebou in Switserland. (Foto

Simona Halep verskyn vandeesweek voor die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) in ʼn poging om haar tennisloopbaan terug op koers te kry.

Die voormalige wêreldnommereenspeler is in September vir vier jaar vir die gebruik van verbode middels geskors.

Volgens die internasionale tennisintegriteitsbeheerliggaam (ITIA) het sy verlede jaar positief vir Roxadustat – ʼn middel wat ʼn atleet se rooibloedselle en uiteindelike uithouvermoë ʼn hupstoot gee – by die Amerikaanse Ope getoets.

Sy het egter ten sterkste ontken dat sy die middel bewustelik geneem het en voer aan dat besmette aanvullings die rede vir die positiewe toets is.

ʼn Glimlaggende Halep het selfversekerd gelyk terwyl sy saam met haar regspan die CAS-hoofgebou in die Switserse stad van Lausanne binnegaan.

Die 32-jarige Roemeense speler het vanuit die staanspoor aangevoer dat sy onskuldig is en weier om ITIA se besluit te aanvaar.

Volgens die wenner van die Franse Ope (2018) en Wimbledon (2019) appelleer sy teen die besluit om haar naam in ere te herstel.

“Indien die skorsing van vier jaar gehandhaaf word, weet ek nie wat ek sal doen nie. Dit sal waarskynlik die einde van my loopbaan beteken,” het Halep destyds in ’n onderhoud met Euronews Romania gesê.

“As dit vir iets is wat ek nie gedoen het nie en boonop ook nie my skuld is nie, sal dit selfs meer katastrofies wees.”

Die ITIA sê dat die tribunaal inderdaad aanvaar het dat Halep ʼn besmette aanvulling geneem het, maar dat die volume wat sy ingeneem het nie sou kon lei tot die konsentrasie van die middel wat in die positiewe monster gevind is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.