Voormalige Grand Slam-kampioen geskors

Simona Halep. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP. )

Simona Halep, wat al met die louere op Roland-Garros en Wimbledon weggestap het, is vir vier jaar vir die gebruik van verbode middels geskors.

Volgens die internasionale tennis-integriteitsbeheerliggaam (ITIA) het die 31-jarige Roemeense speler verlede jaar positief vir Roxadustat – ʼn middel wat ʼn atleet se rooibloedselle en uiteindelike uithouvermoë ʼn hupstoot gee – by die Amerikaanse Ope getoets.

Halep ontken ten sterkste dat sy die middel bewustelik geneem het en voer aan dat besmette aanvullings die rede vir die positiewe toets is.

“Die afgelope jaar is die moeilikste wedstryd van my lewe en ek sal moet aanhou baklei,” het die tweemalige Grand Slam-kampioen in ʼn verklaring gesê kort nadat die bevinding bekendgemaak is.

Sy het bygevoeg dat sy aanhou oefen en alles in haar vermoë doen om nie net haar naam in ere te herstel nie, maar ook ʼn spoedige terugkeer tot die baan te maak.

“Ek het my lewe aan tennis gewy en ek neem die sport se reëls en regulasies baie ernstig op. Terselfdertyd is ek trots op die feit dat ek nooit doelbewus enige verbode middel gebruik het nie. Ek weier om die vierjaarskorsing te aanvaar.”

Volgens Halep het sy ook ʼn appeltjie te skil met die aanvullingsvervaardiger.

“Nie een van die gelyste bestanddele het enige verbode middels bevat nie. Ons weet egter nou dat dit met Roxadustat besmet was. Ek gaan teen die bevinding appelleer, terwyl ek ook regstappe teen die betrokke aanvullingsmaatskappy oorweeg.”

Halep het in 2018 vir Sloane Stephens in die eindstryd van die Franse Ope geklop, terwyl sy ʼn jaar later met Serena Williams op die grasbane van Wimbledon afgereken het.

Sy was verlede jaar ook in die nuus nadat sy ʼn paniekaanval in haar Franse Ope-nederlaag teen Zheng Qinwen gekry het.

Die Roemeense speler het toe die eerste stel met 6-2 gewen, maar het daarna met haar asemhaling begin sukkel en die hulp van ʼn dokter is ingeroep.

Volgens Halep het sy haarself onder te veel druk geplaas omdat sy goed in die toernooi wou vaar.

“Ek het nie geweet hoe om dit te hanteer nie, want dit gebeur eintlik nooit nie. Terselfdertyd is ek onseker oor die rede vir die paniekaanval – ek het dan voorgeloop. Ek het goed gespeel, maar ek kon daarna glad nie meer konsentreer nie.”

Zheng het die wedstryd uiteindelik met 2-6, 6-2 en 6-1 gewen en dit was vir Halep ʼn bitter pil om te sluk.

“Dit was vir my moeilik om te hanteer, maar dinge gaan nou beter. Ek het herstel en sal hieruit leer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.